Skip to main content
US Woordfees bied diskoerse wat almal raak

US Woordfees bied diskoerse wat almal raak

Elsabe Retief
09 Maart 2016

Diskoers speel tradisioneel 'n groot rol  by die US Woordfees en in 2016, met sy talle uitdagings, dra hierdie sessies ekstra gewig met onderwerpe wat elke Suid-Afrikaner raak.

Die Vriende van Afrikaans/ATKV-debat oor of 'n ontwikkelende land soos Suid-Afrika meertaligheid kan bekostig, het bevestig dat terwyl meertaligheid persepsies verander, bitter min gedoen is om dit aan te moedig.

Deur moedertaal-onderrig uit te brei na graad 6, soos die 2015-onderwysbeleid nou voorskryf, sal dit die kind egter in staat stel om ander tale daarna makliker aan te leer. Terselfdertyd beskou prof Mamokgethi Phakeng, vise-hoof van navorsing en innovasie by Unisa, taal as 'n politieke instrument wat studente gebruik om bevoorregting aan te val. Ongelykheid word weerspieël in taal, verduidelik sy, en deur die taal te verdedig, ontstaan die persepsie dat bevoorregtes die ongelykhede wil voortsit.

In Praat Saam, in die RSG/USB-ED-debat oor nasiebou en 'n gedeelde geskiedenis, wat deur Max du Preez aangebied is, het die bekende filosoof, prof Willie Esterhuyse, driftig ontken dat Afrikaans die taal van onderdrukking is, maar gewaarsku indien swart woede nie aangespreek word nie, simbole snellers word van hierdie woede. 

Dr Ernest Messina, voorsitter van die AHI, was van mening dat egter baie moeite al gedoen is om gedeelde simbole soos die landsvlag en leuse te skep. Prof Arnold Smit van die USB-ED het gewaarsku teen stereotipering en die verdelende effek wat simbole op mense kan hê en gesê bevoorregtes nie moet wag vir die regering nie, maar self na minderbevoorregtes uitreik.

In die Beste Professor-reeks, waaraan talle US-akademici deelneem, het gespreksleier proff Andreas van Wyk en Willie Breytenbach die vraag of demokrasie en die regstaat lewensvatbaar in Afrika is, aangepak. Volgens Breytenbach kom benewens staatsgrepe, ook gevalle van "presidensialisme" in Afrika voor, waar 'n leier ná drie termyne, lewenslank president word en soos 'n koning regeer.

In Suid-Afrika is daar egter teenwigte vir hierdie tendense en ook ingeboude uitlaatkleppe soos die vryste pers in Afrika, godsdiensverdraagsaamheid en 'n goed georganiseerde burgerlike samelewing met vakbonde, kerke en belastingbetalersverenigings.

In die volgende Frederik van Zyl Slabbert-gesprekke gaan die nasionale ontwikkelingsplan se toekoms en die komende plaaslike munisipale verkiesing uitgepluis word. Ook pas aangekondig, is die gesprek wat programleier Henry Jeffreys op 10 Maart om 19:00 in die Khaya met die rektore van verskeie universiteite het, waaronder die US-rektor, prof Wim de Villiers.

Grondhervorming, Suid-Afrika en die wêreldekonomie en die staatskas is onderwerpe van verdere bespreking in die Beste Professor-reeks. Dave Pepler gesels oor wetenskapsake by Science Café Stellenbosch, die Woordeboek van die Afrikaanse Taal bespreek aspekte van die WAT, en in Praat Saam, pak Max du Preez en kenners onder meer Afrika en armoede aan, asook hoe migrasie ons Eurosentriese uitkyk op die lewe kan beïnvloed.

ONDERSKRIF: Max du Preez op Praat Saam. Foto deur: STEFAN ELS