
US verwelkom landbouleiers en –studente wat deel is van RUFORUM
Die Universiteit Stellenbosch (US) was Maandag die samekomsplek van 'n groot groep huidige en toekomstige leiers van hoër onderwysinstellings in Afrika met 'n spesifieke landboufokus – van dekane en vise-kanseliers tot voorgraadse en PhD-studente. Hulle het die kampus besoek as deel van die 5de Hoër Landbouonderwysweek en die tweejarige konferensie van RUFORUM, 'n streekswye universiteitsforum wat gemik is op kapasiteitsontwikkeling in die landbousektor. Dit word hierdie week in Kaapstad gehou.
Die US is een van ses Suid-Afrikaanse universiteite wat as RUFORUM-lede die geleentheid aanbied saam met die Landbounavorsingsraad en die CCARDESA-sentrum wat landbounavorsing in Suider-Afrika koördineer.Die tema van vanjaar se weeklange byeenkoms is "Linking Agricultural Universities with Civil Society, Private Sector, Governments and other Stakeholders in support of Agricultural Development in Africa". Die konferensie sal onder toegespreek word deur die voorsitter van die Afrika Unie, dr Nkosazana Dlamini Zuma, die president van die Republiek van Mauritius, verskeie Suid-Afrikaanse kabinetsministers en die US-rektor, prof Wim de Villiers.
Die weeklange verrigtinge het Maandag op Stellenbosch met 'n reeks samesprekings en besoeke regoor kampus afgeskop.
Volgens RUFORUM se uitvoerende sekretaris, prof Adipala Ekwamu, het vise-kanseliers en akademiese leiers van meer as 40 instellings regoor die kontinent by STIAS byeengekom om oor beleidsaspekte rakende hoër onderwys te besin. Daarby het sowat 80 dekane van landbouverwante fakulteite by die Fakulteit Teologie vir daglange samesprekings ontmoet. Die middagsessie is deur prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe en nuwe voorsitter van RUFORUM se Dekaansforum, gelei.
Die dekane het onder meer bespreek hoe hul personeel gemotiveer kan word om verdere akademiese kwalifikasies soos doktorsgrade deur middel van ondersteuningsprogramme te behaal. Verteenwoordigers van verskeie Afrika Hoër Onderwys Sentrums van Uitnemendheid wat deur die Wêreldbank ondersteun word, het onder meer vertel watter werk gedoen word in terme van die landbousektor en petroleumgas.
"Maniere waarop aspekte rondom entreupreneurskap toenemend in akademiese programme aangespreek kan word het ook aandag geniet," het prof Ekwamu gesê.
Volgens prof Brink byeenkomste soos RUFORUM 'n platform waarop wedersyds besin kan word oor die uitdagings wat regoor Afrika ervaar word, en hoe om dit gesamentlik aan te spreek. "Dit is ook 'n wonderlike geleentheid wat help bou aan 'n netwerk van vennote regoor die vasteland waarmee die Universiteit Stellenbosch kan saamwerk om hierdie kwessies te help oplos," het hy bygevoeg.
In sy verwelkomingswoord vroeër die oggend aan meer as 300 besoekende RUFORUM-studente van regoor die kontinent het prof Brink die belangrike rol uitgelig wat die landbousektor wêreldwyd speel om sosiale stabiliteit en ekonomiese groei te bewerkstellig.
Hy het gesê dat die studente as toekomstige leiers 'n belangrike rol het om te verseker dat die landbousektor onder meer volhoubaar bedryf word. "Agriwetenskappe in die moderne era is 'n baie komplekse wese," het hy bygevoeg.
Personeel en studente van die Fakulteit AgriWetenskappe se 11 departemente het daarna die besoekers op kampustoere vergesel. Aanbiedings is by die verskillende departemente gemaak oor die studieprogramme, navorsingsareas en transdissiplinêre inisiatiewe wat voornemende nagraadse studente en navorsers kan oorweeg. By die Departement Voedselwetenskap byvoorbeeld het dosente 'n oorsig gegee oor produkontwikkeling in die voedselsektor, en die navorsing wat gedoen word oor afvalwatersuiwering, voedselhigiëne en die gebruik van X-straal beeldingstegnologie.
By die Departement Bos- en Houtkunde het die besoekers 'n kitskursus oor die Universiteit se verskillende webbladsye gekry waar hulle bykomende inligting oor studie- en navorsingsprogramme souk an kry indien hulle verdere samewerking met die US oorweeg. Tydens 'n lewendige bespreking by die Departement Genetika is die gebruik van biotegnologie ter bevordering van voedselsekuriteit bespreek. Daardeur kon die deelnemers verskillende menings hoor oor hoe aspekte soos geneties gemodifiseerde produkte in verskillende lande ontvang word – van Soedan in die noorde tot by die Venda-streek in die suide.
- Vir meer inligting oor RUFORUM, besoek www.ruforum.org.
Foto onderskrif:
Van die dekane by die geleentheid was (van links) Mick Sikaenyi Mwala van die Universiteit van Zambië, uittredende voorsitter van die RUFORUM Dekaansforum Simon Angombe van die Universiteit van Namibië, RUFORUM se bestuurder vir opleiding en kwaliteitsaspekte, Solange Uwituze, Agnes Mwangwela van die Lilongwe Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne, Khumoetsile Mmolawa van Botswana se Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne, asook prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe en nuwe voorsitter van die RUFORUM Dekaansforum. Foto: Engela Duvenage