
US-raad neem ondersoeke verder en stel subkomitee vir taal aan
Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Saterdag (20 Februarie 2016) by ‘n buitengewone vergadering drie mosies oor taalimplementering aanvaar, asook ‘n mosie oor die onlangse insident van beweerde ‘blackfacing’ in Heemstede.
Die buitengewone vergadering is aanvanklik belê oor taalimplementering aan die US nadat dit onder die Raad se aandag gekom het dat daar vanjaar in sekere fakulteite taalspesifikasies toegepas word wat strydig is met die goedgekeurde Taalbeleid en Taalplan van 2014, en die daaropvolgende Raadsmosie van 30 November 2015. Mnr George Steyn, Voorsitter van die Universiteitsraad, het ‘n bykomende punt op die agenda geplaas vanweë die prominensie van die beweerde ‘blackfacing’-insident in Heemstede en die heftige reaksie wat dit onder belangegroepe van die US uitgelok het.
Die Raad het taalimplementering aan die US breedvoerig bespreek, en onder meer ‘n mosie aanvaar om ‘n amptelike subkomitee van die Raad aan te stel wat verantwoordelik sal wees vir aangeleenthede met betrekking tot die Taalbeleid en Taalplan. Die subkomitee sal sy eie mandaat en magte ten opsigte van afhandelingsbevoegdheid bepaal en ʼn aanbeveling daaroor aan die Raad maak waarop die Raad moet afteken. Die subkomitee sal ook by magte wees om addisionele lede te koöpteer en sal by elke vergadering aan die Raad terugrapporteer.
In ‘n tweede mosie het die Raad die Uitvoerende Komitee van die Raad versoek om ‘n onafhanklike persoon aan te stel om die onlangse proses insake taalimplementering te ondersoek, en om verder ‘n bevinding te maak oor hoe afwykings ontstaan het, en aanbevelings te maak oor hoe om dit in die toekoms te hanteer.
Met erkenning vir die buitengewone omstandighede in die hoër onderwys, en in aansluiting by sy mosie van 30 November 2015, het Raad in ‘n derde taalmosie toestemming gegee vir ‘n interim-maatreël om die taalspesifikasies vir akademiese modules met soepelheid toe te pas, met nakoming van die volgende beginsels: dat tale op so ‘n manier gebruik word dat geen student van ‘n lesing uitgesluit word nie, en dat die gebruik van Afrikaans in lesings verseker, bevorder en aangemoedig sal word. Hierdie tussentydse maatreël sal geld totdat die Raad ‘n nuwe Taalbeleid en Taalplan goedkeur.
Na ‘n bespreking van die beweerde ‘blackfacing’-insident en die daaropvolgende gebeure, asook die heftige openbare reaksie en debatte, het die Raad eenparig in ‘n mosie sy onvoorwaardelike verskoning aangebied aan elke student en personeellid wat trauma ervaar of negatief geaffekteer is deur die Heemstede-insident. Die Raad het ook die besluit van die Rektor se Bestuurspan om ‘n kommissie van ondersoek na die gebeure in te stel, verwelkom en die Uitvoerende Komitee van die Raad gemagtig om die nodige stappe te neem, onder meer ook om die mandaat van die kommissie te bepaal.