Skip to main content
US kry uitstel vir taalimplementering

US kry uitstel vir taalimplementering

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
11 Maart 2016

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het vanoggend (11 Maart 2016)  in die Hooggeregshof van Suid-Afrika uitstel gekry tot 29 Maart 2016 om terug te keer tot taalimplementering volgens die Taalbeleid en Taalplan van 2014, en soos per module gespesifiseer word in die fakulteitsjaarboeke van 2016. Op regsadvies het die US besluit om te berus by die hof se dringende uitspraak in die aansoek van Afriforum Jeug en ander applikante, maar het die hof versoek om die bepaling van 'met onmiddellike effek' te vervang met 'vanaf Dinsdag 29 Maart 2016' om die Universiteit die geleentheid te gee om met die kampusgemeenskap te kommunikeer en die praktiese reëlings vir aanvullende maatreëls tref.

Die volledige agtergrond en verwikkelinge rondom taalimplementering aan die Universiteit Stellenbosch het in 'n beëdigde verklaring​ by die Hooggeregshof gedien. Die Universiteit het intussen in Februarie reeds begin met 'n amptelike proses om die Taalbeleid en Taalplan van 2014 te hersien. Die proses sal volgens die voorgeskrewe prosedure verloop en sal konsultasie met belangegroepe insluit. Daar sal binnekort meer daaroor met die kampusgemeenskap gekommunikeer word.

Met taalimplementering oor die afgelope twee jaar was dit die US se doel om studente wat nie in Afrikaans vaardig is nie, toegang tot die akademiese onderrigaanbod te bied. Vir die onmiddellike toekoms sal die US nou fokus op verdere kommunikasie met die kampusgemeenskap, en die praktiese maatreëls om te verseker dat alle modules by alle fakulteite aangebied word volgens die taalspesifikasies in die 2016 jaarboeke. Terselfdertyd sal die US ook binne sy beskikbare hulpbronne aanvullende maatreëls tref om sover moontlik te voorkom dat studente wat nie in Afrikaans of Engels vaardig is nie, van voorlesings uitgesluit word.  Die US se oogmerk is om die Taalbeleid en Taalplan volgens die voorgeskrewe prosesse te hersien en in Junie 2016 die produk van die hersieningsproses aan die Raad voor te lê vir oorweging.