Skip to main content
US Internasionaal kort programme styg uit

US Internasionaal kort programme styg uit

SU International
24 Oktober 2018

Universiteit Stellenbosch Internasionaal het ʼn vennootskap met die Internasionale Bestuurskool (IBS) aangegaan om saam 'n nuwe kortkursus vir professionele werkendes aan te bied. Een-en-twintig deelnemers van lande soos Kameroen, die VSA, Nigerië, Zimbabwe, Engeland en Saoedi-Arabië woon tans 'n twee weeklange sakebestuurskursus aan die Universiteit Stellenbosch (US) by. Die kortkursus word deur US Internationaal en IBS Frankryk in Stellenbosch gefasiliteer en vorm deel van die sakeskool se internasionale MBA-kursus. Dit fokus op 'Innovasie en internasionalisering van klein en mediumgrootte ondernemings,' 'Afrika-ekonomie vir sakeleiers,' 'Leiers van die 21ste eeu as mentors en afrigters' en 'Die sistematiese benadering tot besigheids toekoms'. Die kursusse word deur dosente van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool en industrie leiers aangebied.

Die Internasionale Bestuurskool het kantore in Parys in Frankryk en New York in die VSA en werk saam met instansies in Brasilië, Indië, Suid-Afrika en China. Die skool spog daarmee dat baie van hul gegradueerdes senior bestuursposte beklee in verskeie sektore van die samelewing.

US Internationaal bied 'n aantal kort kursusse gedurende die jaar aan. Die kantoor het sedert Januarie reeds tien kort programme aangebied. Hierdie is deur meer as 200 internasionale studente bygewoon. Dit sluit in programme in opvoedkunde, gesondheidsorg, sportwetenskap, sosiologie en internasionale aangeleenthede en is deur studente van Linneaus Universiteit in Swede, die Universiteit Noord-Carolina, Universiteit van Georgia, Northwestern Universiteit en Virginia Tech in die VSA bygewoon. Kort programme word deur die Global Education Centre binne US Internasionaal bestuur.

  • Die IBS-deelnemers is tot 2 November 2018 by die Universiteit van Stellenbosch.​