
US dermatoloog ontvang L’Oréal-navorsingsbeurs
Dr Willie Visser, ʼn dermatoloog aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die L'Oréal- navorsingsbeurs vir vel- en haarsiektes van Afrika ontvang vir navorsing oor aknee keloïdalis nuchae (AKN).
"Vel- en haarsiektes van Afrika is vir jare afgeskeep en dit is wonderlik dat daar ʼn spesiale toekenning in Afrika is vir navorsing oor hierdie letselvormende siekte, wat die lewensgehalte van mense wat daaraan ly ernstig beïnvloed," het Visser gesê. Hy is die hoof van die Afdeling Dermatologie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).
AKN is ʼn vel- en haarsiekte wat oorwegend voorkom by mans wie se hare 'n etniese tekstuur het en pasiënte van Afrika- of gemengde afkoms. Dit tas die agternekholte aan en vorm puisies en kan lei tot permanente haarverlies en groot areas met letsels. Dit kan ook ander areas as die agternekholte aantas.
Visser is dr Altaaf Parker, ʼn kliniese assistent by die FGGW en Tygerberg-hospitaal, se studieleier. Parker doen ʼn navorsingsprojek oor die onderwerp as deel van sy studies vir sy MMed-graad. Hulle ondersoek die vroegste voorkoms van die verspreiding van die siekte. Die doelwit van die beskrywende studie is om die dermatoskopiese en histopatologiese eienskappe van sub-kliniese of vroeë AKN te beskryf.
"Die beurs stel ons in staat om die nodige toerusting aan te koop om die studie te voltooi en ons werk in ʼn eweknie-beoordeelde vaktydskrif te publiseer," het Visser gesê.
Hulle beoog om met die studie dermatoloë in staat te stel om vroeë merkers van die siekte te identifiseer by pasiënte of mans wat bekommerd is oor hierdie toestand. Vir pasiënte wat alreeds met AKN gediagnoseer is en deur ʼn dermatoloog behandel word, beoog hulle om kliniese hulpmiddels te ontwikkel om verdere verspreiding te bepaal. Volgens Visser kan vroeë diagnose daartoe lei dat behandeling gouer kan begin en die ongemak wat met hierdie siekte geassosieer word, aansienlik verminder word.
Die beurs word toegeken vir ʼn navorsingsprojek in Afrika suid van die Sahara vir ʼn tydperk van een jaar en die wenner ontvang ʼn bedrag van 10 000 euro's. Die doel is om kliniese en basiese navorsing oor etniese vel- en haarfisiologie – wat deur Afrika-wetenskaplikes in Afrika gedoen word – te bevorder.
Foto: Dr Willie Visser, die hoof van die Afdeling Dermatologie by die Universiteit Stellenbosch, ontvang die toekenning van dr Michele Verschoore, die Mediese Direkteur: L'Oreal Navorsing en Innovering en prof Ncoza Dlova van die Universiteit van KwaZulu Natal.