Skip to main content
US aanvaar UK se #LunchBoxChallenge om voedselsekerheid en gesondheid te bevorder

US aanvaar UK se #LunchBoxChallenge om voedselsekerheid en gesondheid te bevorder

Division for Social Impact
26 April 2019

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het onlangs ʼn beweging getiteld die #LunchBoxChallenge van stapel gestuur. Hierdie inisiatief is daarop gemik om die hongerkrisis te verlig waarvoor talle Suid-Afrikaanse skoolkinders te staan kom. Daar word geraam dat drie uit vier Suid-Afrikaanse leerders elke dag honger skool toe gaan. Dit is ʼn angswekkende syfer as in ag geneem word dat hierdie kinders ʼn baie groter risiko vir belemmerde groei en swak akademiese prestasie loop, veral tydens ontwikkeling in die vroeë kinderjare. Dit veroorsaak onherstelbare skade aan ʼn persoon se vermoë om te leer en te ontwikkel. Die Universiteit Stellenbosch (US) het die UK se uitdaging aanvaar om ons eie #LunchBoxChallenge te hou om 20 000 maaltye vir leerders in hierdie kritieke ontwikkelingsfase te verpak.

Connect Maties, die studente-fondsinsamelingsarm vir sosiale impak, en Rise Against Hunger Africa (RAH) span saam in hierdie inisiatief om die 20 000 maaltye aan RAH se voedingsprogram vir vroeë kinderontwikkeling te verpak en te skenk. RAH is ʼn vrywilligergebaseerde maaltydverpakkingsprogram met die doel om wêreldhonger teen 2030 uit te wis. RAH-maaltye word in skole verskaf om inskrywing en bywoning te bevorder. Deur hierdie maaltye kry die leerders die nodige energie om te konsentreer, te leer en aan skoolaktiwiteite deel te neem. Dit stel hulle in staat om akademies te presteer en verbeter hulle toekomsgeleenthede.

Die fokus van hierdie inisiatief – om by te dra tot die uitwissing van wêreldhonger teen 2030 – is in lyn met die US se tema vir sosiale impak van “Voedselsekerheid en gesondheid”. Dit is weer in lyn met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte van “Geen honger” en “Goeie gesondheid & welsyn”.

Alle US-studente en -personeellede word gevra om ons te help om die UK se uitdaging te aanvaar om te verseker dat kinders nie meer honger skoolgaan nie.

Die maaltydverpakkingsgeleentheid sal Saterdag 11 Mei plaasvind in die Neelsie vir vrywilligers 10:00 – 12:30. 

Skakel met Cailin Perrie (Connect Maties-voorsitter, [email protected]) of Taydren van Vuuren (Connect Maties-vennoot, [email protected]) vir verdere inligting.