Skip to main content
Twee Maties verteenwoordig SA by Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi

Twee Maties verteenwoordig SA by Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi

Pia Nänny
10 Julie 2016

Twee Matie-netbalspelers het die naweek na Miami, VSA, vertrek om as deel van die Suid-Afrikaanse Universiteitespan aan die Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi deel te neem.

Suid-Afrika speel Woensdag, 13 Julie, in hul eerste wedstryd teen die VSA. Die laaste wedstryde vind Sondag 17 Julie plaas.

Juline Rossouw, 'n oudleerder van Paarl Gimnasium, en Charmaine Baard, 'n oudleerder van Hoërskool Brackenfell, is deel van die groep wat Suid-Afrika by hierdie toernooi sal verteenwoordig.

Hulle is albei onderwysstudente – Juline in haar vierde jaar en Charmaine in haar derde jaar.

Juline is vroeër vanjaar by die finale oefengroep ingesluit, terwyl Charmaine later ingesluit is nadat van die spelers in die oefengroep beseer is.

Juline wil haarself op internasionale vlak as netbalspeler bewys.

"Dis 'n wonderlike geleentheid en ek sien baie uit," het sy gesê. "Dit is lekker toernooi en ons het 'n baie goeie span met baie goeie spelers."

As vierdejaarstudent beplan sy om aan die einde van die jaar te gradueer, en daarom het sy besluit om vir oulaas voluit netbal te speel en alle geleenthede aan te gryp. Sy wil graag in aanmerking kom om vir die Proteas te speel en die Varsity Sports-netbaltoernooi is ook om die draai.

Juline en Charmaine was ook albei deel van die Southern Stings-span wat vroeër vanjaar aan die Brutal Fruit-netbalkompetisie deelgeneem het.

Dit was tot dusver 'n gebeurtenisvolle jaar vir Charmaine. Naas haar deelname aan die Brutal Fruit-kompetisie, het sy Suid-Afrika ook op o.21-vlak in 'n toetsreeks teen Wallis verteenwoordig.

Sy is baie opgewonde oor hierdie geleentheid wat onverwags oor haar pad gekom het.

"Dit beteken ek het nog 'n kans om myself te bewys en dis so 'n ongelooflike geleentheid om die sport te gaan speel waarvoor ek baie lief is. Dis 'n nuwe ervaring en ek is baie opgewonde. Ek wil soveel as moontlik leer en sal graag wil hê dat ons met goud moet terugkom.

"Netbal is 'n baie groot deel van my lewe, en is al vir meer as 14 jaar. Dis wie ek is, dit beskryf my perfek. Dis die sport wat my passie is en wat my dryf om meer en meer te bereik."

Weens hul insluiting by die universiteitespan, het hierdie twee Matie-staatmakers die USSA-toernooi misgeloop wat verlede week by die Universiteit van Kaapstad aangebied is. Maties het vierde geëindig.

  • ​'n Derde Matie – Nelandré Mostert – is ook in Miami as deel van die Namibiese span.