Skip to main content
Twee Maties op pad na Engeland vir 0.20-rugbytoernooi

Twee Maties op pad na Engeland vir 0.20-rugbytoernooi

Maties HP
01 Junie 2016

Niks wat die moeite werd is, is maklik nie… Dit is die oortuiging waaraan Edwill van der Merwe, eerstejaarstudent in die Departement Sportwetenskap en Junior Springbok-rugbyspeler, vashou as dinge moeilik raak.

Van der Merwe en sy Matiespanmaat Ernst van Rhyn ​is onlangs ingesluit by die Junior Springbok-groep wat aan die Wêreldtoernooi vir o.20-spanne in Manchester, Engeland, sal deelneem.

Die toernooi vind van 7-25 Junie plaas.

"Dit is 'n ongelooflike voorreg en eer om my land te verteenwoordig. Dit was my droom om vir die span te speel sedert ek 'n baldraer was by die toernooi wat in 2012 in Stellenbosch en Kaapstad gespeel is. Ek het my skoolhelde in aksie gesien en geweet dit is waar ek eendag wil speel," het Van der Merwe gesê.

Van der Merwe is van Kylemore en is 'n oudleerder van Paul Roos Gimnasium. Hy het verlede jaar vir die Westelike Provinsie se o.19-span gespeel wat die eindstryd van die nasionale toernooi gehaal het. Hy was ook vanjaar deel van die Maties Rugby-span wat in die eindstryd van die Varsitybeker-toernooi gespeel het.

Van Rhyn, wat verlede jaar aan Paarl Gimnasium gematrikuleer het, het vanjaar soos Van der Merwe vir Maties in die Varsitybeker-toernooi gespeel. 

“Ek dink dit is enige professionele rugbyspeler se droom om sy land te verteenwoordig. Dit was dus beslis ‘n persoonlike doelwit, maar een wat ek maar eerder aan die begin vir myself gehou het!” het dié voormalige SA Skole-kaptein vertel.​

Hy studeer tans in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Volgens Van der Merwe is dit nogal 'n uitdaging om sy studies en sport te balanseer, maar dit is een wat hy geniet.

"Ek streef daarna om 'n gebalanseerde lewe te lei wat studies, sport, godsdiens en my sosiale lewe betref. Ek is ongelooflik bevoorreg dat ek my studies regtig baie geniet en wonderlike klasmaats het wat bereid is om te help.

"Ek is ook dankbaar vir my kamermaat wat my al 'n paar keer moes wakker maak toe ek voor my boeke aan die slaap geraak het! Ek kan meestal net in die aande studeer en dan is ek nogal moeg ná die dag se klasse en oefensessies. Dit is egter dan wanneer ek vir myself sê dat niks wat belangrik en die moeite werd is, maklik kom nie."

Hierdie oortuiging en die ongelooflike ondersteuning wat hy van sy vriende, familie, Maties Rugby en die Departement Sportwetenskap kry, maak dit vir Van der Merwe moontlik om deur te druk.

Van Rhyn beaam dat om alles te balanseer nie maklik is nie, maar dat dit belangrik is vir hom om sy graad te verwerf.

“Ek sal eerlik wees en sê dit is wel 'n uitdaging. Ofskoon ons redelik besig is deur die dag, is daar tog genoeg tyd wat ek sinvol probeer benut. Verder is dit ‘n goeie motivering om te weet dat indien ek nie meer die voorreg het om rugby te kan speel nie, ek wel iets het om op terug te val.”​

Foto: SA Rugby