
SUNSEP betrokke by internasionale wetenskapekspo
Die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes bied leerders die geleentheid om te leer hoe om navorsing op 'n wetenskaplike manier te doen en dit is hoekom die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) en Fakulteit Natuurwetenskappe elke jaar betrokke is om 'n streeksuitdun van hierdie kompetisie aan te bied.
In Suid-Afrika kan leerders hulle navorsingsprojekte jaarliks by 35 verskillende streeksuitdunne uitstal. By die streekskompetisies kan hulle gekies word om aan die Suid-Afrikaanse Internasionale Wetenskapsfees deel te neem. En by die nasionale kompetisie kan 'n paar van die 600 leerders wat daar uitstal, gekies word om Suid-Afrika by ander internasionale kompetisies te verteenwoordig.
Me Erika Hoffman, voorsitter van die Stellenbosch-streek van die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes-program en personeellid van SUNSEP (geleë in die Fakulteit Opvoedkunde), was die leier van 'n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Internasionale Omgewing- en Volhoubaarheidsprojekolimpiade (INESPO) wat van 29 Mei tot 3 Junie in Amsterdam aangebied is.
Sy het Amalia Geldenhuys van Vredendal en Gabriella Fedetto van Johannesburg vergesel. Hulle was deel van 'n groep deelnemers vanaf 49 verskillende lande wat 103 projekte uitgestal het. Die doel van INESPO is om aandag te vestig op omgewing- en volhoubaarheidsuitdagings en om hoërskoolleerders aan te moedig om oor hierdie kwessies na te dink.
Amalia het navorsing gedoen oor die chemiese eienskappe en doeltreffendheid van biodiesel wat gemaak word van die olie van druiwesade en die sade van vier indringerplante en het dit met kommersiële diesel vergelyk. Van die kombinasies was selfs 'n beter energiebron as tradisionele diesel. Sy het 'n silwer medalje gewen.
Gabriella se projek het oor volhoubare gesondheidsorg gehandel. Sy het 'n outomatiese medisyne-outomaat ontwerp om medisyne te gee vir mense wat deur ernstige siektes geraak word en wat sukkel om hul daaglikse dosis te volg of vergeet om hul medisyne te neem. Sy het 'n brons medalje gewen.
"As 'n mens in ag neem dat net 20% van die projekte silwer medaljes gewen het en net 30% brons, is hierdie prestasies uitsonderlik. Die leerders was ongelooflike ambassadeurs vir ons land op meer as een vlak," het Hoffman gesê.
"Ek is positief oor die toekoms van hierdie land as ek kyk na die gehaltenavorsing wat deur hierdie leerders gedoen word."
Dr Trevor van Louw, Direkteur van SUNSEP, het Hoffman en die leerders gelukgewens.
"SUNSEP is trots om met die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes-program geassosieer te word en opgewonde oor die geleenthede wat dit aan jong Suid-Afrikaners bied. Dit moedig leerders aan om hul natuurlike nuuskierigheid toe te pas en gee hulle 'n platform om hul bevindings met ander te deel," het hy gesê.
Die Suid-Afrikaanse span het teen agt ander spanne in 'n vriendskaplike LEGO League-kompetisie deelgeneem en saam met Slowenië eerste gekom. Hulle moes 'n robot met LEGO MINDSTORMS®-tegnologie bou en programmeer.