
Studente verskuif grense van hul gemaksones
Studentwees gaan oor meer as net studies – dit gaan ook oor geleenthede om die grense van gemaksones te verskuif en te groei as persoon en Suid-Afrikaner. Drie studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vertel meer oor hulle ko-kurrikulêre reis.
“As jy universiteit verlaat met net ’n graad, het jy jou tyd gemors,” meen Dewald Müller, honneurstudent in Aktuariële Wetenskap, studente-entrepreneur en medestigter van die maatskappy Adflow (lees meer).
Hy het in die afgelope jaar nie net verskeie entrepreneurstoekennings gewen nie, maar is ook saam met vier ander Maties gekies om in Washington aan ’n gesogte internasionale leierskapontwikkelingsprogram (SAWIP) deel te neem.
Die program is daarop gemik om ’n nuwe generasie Suid-Afrikaanse leiers te inspireer, te ontwikkel en te ondersteun. ’n Groep van 20 studente van reg oor Suid-Afrika het in Junie na die VSA vertrek en sal ongeveer ses weke daar deurbring.
“Dit is ’n ongelooflike groot voorreg om deel van SAWIP te wees,” sê Dewald. “Dit is een van die grootste leerkurwes wat ek nog in my lewe ervaar het.
“Al my verwagtinge is reeds oortref. SAWIP bied ’n platform waar jong Suid-Afrikaanse leiers mekaar kan uitdaag en kan saamwerk om die toekoms van Suid-Afrika te verander en help verbeter. Ek verwag om na afloop van die program ’n baie wyer uitkyk te hê op kwessies wat ons samelewing raak en om deel te wees van ’n groter netwerk van jong leiers wat nog diep spore in hierdie land gaan trap,” voeg hy by.

In 2015 het Anita Engelbrecht, wat Bestuursrekeningkunde studeer, gesê sy sou nooit kon droom dat sy ’n lid van die Bellville-atletiekklub sou wees nie (lees meer).
Intussen het dié Matiestudent, wat ly aan spastiese diplegie en haar lewe lank al in ’n rolstoel is, en haar mede-klublid Hilton Murray al die Kaapstad-marathon, die Old Mutual Twee Oseane-ultramarathon en die Comrades-marathon voltooi.
Murray stoot Anita in ’n jogger, ’n waentjie wat spesiaal hiervoor ontwerp is. Die span doen dit ten bate van die Chaeli Campaign se sport- en ontspanningsklub (wat sport- en ontspanningsgeleenthede vir mense met gestremdhede binne ’n inklusiewe sosiale raamwerk bevorder) en PinkDrive.
Anita het die Comrades as ’n lewensverrykende ervaring beskryf.
“Oom Hilton het jare gelede my ma en pa se eerste Comrades saam met hulle gedoen. Dis in my gene. Wat ’n voorreg was dit nie om op só manier my droom ’n realiteit te kon maak nie. Dit was so lekker om in die drawwerskultuur te kon deel en die roete te kon beleef. Dis ’n seën om in oorvloed te kan leef en dit dan ook te kan doen vir ’n groter doel. Dis vir my ’n voorreg om die weg te baan vir ander gestremde persone wat ook wil deel aan sport.”
Die span het die roete in ’n tyd van 10:57:51 voltooi.
“Die ondersteuning van die mense langs die pad was ongelooflik. Dis wonderlik hoe die meeste mense spontaan inkoop in ons visie en missie. Die positiewe terugvoering maak alles die moeite werd. Hierdie ervaring het my weer hoop vir die mensdom gegee,” voeg sy by.
Hoop is ook ’n belangrike tema vir vanjaar se Mej Varsitybeker, Maties se Joy Mashego.
Joy, ’n BRek-student in haar derde jaar, kom oorspronklik van die informele nedersetting Mahushu in Mpumulanga af en het albei haar ouers op ’n jong ouderdom verloor. Sy praat met groot lof van haar ouer suster wat verskeie opofferings gemaak om na haar om te sien en haar “gewys het wat onvoorwaardelike liefde” is.
Joy se potensiaal is vroeg raakgesien en sy het ’n beurs ontvang om Uplands College in Witrivier by te woon. Sy het vroeg in haar hoërskoolloopbaan besluit dat sy ’n geoktrooieerde rekenmeester wil word en werk baie hard om hierdie droom te verwesenlik.
Hoewel sy modelwerk as ’n stokperdjie doen, was dit nie deel van haar plan om vir skoonheidskompetisies in te skryf nie. Haar vriende het haar sonder haar medewete vir die Mej. Varsitybeker-kompetisie benoem. Sy was egter verheug om uit te vind dat die kompetisie oor meer as net voorkoms gaan en dat dit ook ’n gemeenskapsdienskomponent insluit.
Joy voel voel baie sterk oor gemeenskapsdiens. “My gemeenskap het so baie vir my gedoen en ek wil graag iets teruggee. Daar is so baie wat nog gedoen moet word.”
Haar boodskap aan veral jong meisies is dat dit moontlik is om hul omstandighede te verander.
“Ons gee mense dikwels materiële goed, maar ons moet hulle ook hoop en ’n voorbeeld gee,” sê sy. “Ons moet hulle herinner dat enigiets moontlik is.”