Skip to main content
Studente bemoedig deur Woordfees-feesgangers se bereidwilligheid om isiXhosa te leer

Studente bemoedig deur Woordfees-feesgangers se bereidwilligheid om isiXhosa te leer

Pia Nänny
14 Maart 2019

Opvoedkunde-studente van die Universiteit Stellenbosch (US) wat aan die #Amagama-projek by vanjaar se Woordfees deelgeneem het, was aangenaam verras deur mense se bereidwilligheid om isiXhosa te leer.       

Amagama beteken “woordeskat" in isiXhosa en die projek, nou in sy tweede jaar, se doel is om taal- en kulturele grense oor te steek deur feesgangers basiese isiXhosa-woorde en -sinne te leer.      

'n Groep van 14 Opvoedkunde-studente met isiXhosa as hoofvak het aangebied om verlede week met die Woordfees by verskillende venues diens te doen. Hulle ervaring was baie positief.      

Anathi Sokweba glo diversiteit behoort gevier te word.      

“Om belangstellendes by die Woordfees te leer om isiXhosa te praat, was vir my 'n geleentheid om 'n gevoel te kry van wat 'n inklusiewe klaskamer van my as onderwyser sal vereis. Om taalgrense oor te steek, het 'n enorme invloed op hoe mense by mekaar aanklank vind.        

“Ek kon nie glo hoeveel wit mense belang gestel het om isiXhosa te leer nie. Om mense aan die projek te sien deelneem, het my hoop gegee vir 'n beter toekoms," het Sokweba bygevoeg.       

Marie-Louise Hellstrom is baie passievol oor isiXhosa.        

“Dit was wonderlik om te sien hoe mense se gesig verhelder wanneer hulle 'n woord herken en uiteindelik betekenis daaraan kon gee. Daar is niks meer bevredigend as om iemand te sien leer nie."

Carly Beavon glo dat om met iemand in hul moedertaal te praat die toppunt van respek is.   

“Ek het gevind dat jonger mense gretiger was om die taal te leer en dat baie van die ouer feesgangers deur die klikgeluide geïntimideer is. Ek het egter 'n wonderlike ervaring met 'n ouer dame gehad wat elke dag gekom het om nuwe woorde te leer en om die woorde van die vorige dag te oefen. Sy het verduidelik dat sy dit geniet om met haar tuinier in sy huistaal te praat en meer wou weet sodat hulle meer betekenisvolle gesprekke kon hê."     

Roland van Vuuren beskryf isiXhosa as 'n prettige taal met 'n ryk kultuur.      

“Ek het dit baie geniet om mense te leer om isiXhosa te praat. Daar was 'n fantastiese respons en ons het baie aandag getrek. Een van die hoogtepunte van die projek was toe 'n jong paartjie wat 'n Xhosa-kind aangeneem het meer oor isiXhosa en die AmaXhosa-kultuur wou leer sodat hulle hul kind van sy herkoms kon leer."      

Volgens Raechelle Gouws is hul groep besoek deur 'n man wat byna twee uur lank gebly het om al die sinne en woorde te leer.      

“Die veiligheidswag wat by dié punt diens gedoen het, het so belang gestel in die projek dat sy meegedoen het en die man met sy uitspraak gehelp het."      

Chané Terblanche het aan die projek deelgeneem om haar selfvertroue ten opsigte van die praat en onderrig van isiXhosa te verbeter.     

“Vir my was die hoogtepunt van die week om te sien hoeveel ouer mense belang gestel het om 'n nuwe taal te leer. Dit gee my hoop om te weet dat daar nog 'n kans is dat die reënboognasie bymekaar kan kom en oor en van mekaar kan leer."