
Steinhoff Matie-spelers deel van seëvierende PHL-span
Twee spelers van die Steinhoff Maties Hokkieklub was deel van die span wat die afgelope naweek die eerste Suid-Afrikaanse Premierhokkieliga-toernooi (PHL) gewen het.
James Drummond en Jacques Bleeker het vir die Maropeng Cavemen gespeel wat die Addo Elephants in die eindstryd met 2-0 geklop het.
Ander Maties wat in die PHL gespeel het, was Keenan Horne en Reece Arendse (Garden Route Gazelles); Luke Schooling (Drakensberg Dragons); Alex Stewart, Matt de Sousa, Charlie Bowren en Rob McKinley (SA o.21-span wat as die Golden Gate Gladiators deelgeneem het); Heather McEwan, Natasha Rootenburg en Nicole la Fleur (Wineland Wings); en Tarryn Glasby, Christine Seggie, Dani Cairns en Alegra Dijkstra (SA o.21-span wat as die Namaqualand Daisies deelgeneem). Die Gazelles het derde geëindig ná 'n oorwinning oor die Gladiators, terwyl die Wineland Wings ook brons gewen het.
"Ek het nie geweet wat om van die PHL te verwag nie. Dit was egter ‘n aanloklike idee en ek wou veral ná Maties se USSA-sege baie graag nog hokkie speel,” het Drummond ná sy span se oorwinning gesê.
Drummond en sy Matiespanmaat Jacques Bleeker is deur die Maropeng Cavemen gekies, ’n span wat grotendeels bestaan het uit spelers van Johannesburg.
"Dit was uit die staanspoor duidelik dat ons fokus was om 'n hegte span te wees. In Rassie Pieterse het ons 'n sterk leier gehad wat seker gemaak het ons almal bly gefokus.
"Dit was 'n baie interessante ervaring om deel te wees van 'n span waar ons baie min gemeen gehad het behalwe ons liefde vir hokkie! Ek speel nog my hele lewe in die Westelike Provinsie hokkie en daarom was dit ‘n wonderlike ervaring om sáám met die spelers te speel en nie soos altyd teen hulle nie."
Drummond glo the PHL gaan baie vir Suid-Afrikaanse hokkie beteken.
"Die PHL bied hokkiespelers iets ekstra om voor te speel. Ek speel al die afgelope 10 jaar hokkie en dit is wat spelers nog altyd versoek het: ‘n professionele plaaslike liga. Die uiteindelike doel is om hokkie 'n professionele sport te maak. Ek glo vanjaar was net die eerste stap en ek is seker dit sal net groter en beter word. Dit was baie lekker en spesiaal om deel van die 2016 PHL te wees.”
Die eerstejaarstudent Schooling het vir 'n span gespeel wat gesukkel het, maar dit was steeds ’n wonderlike geleentheid vir hierdie jong speler.
"Dit was 'n epiese ervaring om blootgestel te word aan 'n verskeidenheid gehaltespelers van reg oor die land. Die senior nasionale spelers in my span het my baie gehelp en geleer oor verskeie aspekte van die spel.
"Die professionaliteit van die liga was ook wonderlik. Ek sien regtig uit na volgende jaar na die sukses van die eerste PHL.”