
Spreek rugpyn in die kinderjare aan om ʼn leeftyd se lyding te voorkom
Wêreldruggraatdag – 16 Oktober 2016
Muskuloskeletale rugpyn (MRP) by kinders en tieners word beskou as ʼn globale gesondheidsprobleem. Die voorkoms van MRP by kinders en tieners het die afgelope paar jaar beduidend toegeneem en wissel tussen 15 en 35 persent.
"Daar is nuwe bewyse dat kinders, en veral tieners wat oor aanhoudende pyn kla, ʼn hoër risiko het om as volwassene chroniese pyn te ontwikkel," het dr Yolandi Brink gesê. Sy is ʼn fisioterapeut by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Volwassenes wat ʼn eerste episode van MRP tydens hul kinder- of tienerjare ervaar het, het ʼn groter risiko om herhaaldelike episodes van MRP te ervaar. "MRP is ʼn algemene oorsaak van langtermynpyn en fisiese ongeskiktheid," het Brink gesê.
Pogings om hierdie toestande te probeer verstaan wanneer hulle vir die eerste maal voorkom, verbeter die kans om doeltreffende voorkomende- en behandelingstrategieë te ontwikkel. "Daarom val die klem op óf die suksesvolle behandeling van klagtes oor rugpyn van kinders, óf deur te verhinder dat die eerste episode van pyn voorkom," het Brink verduidelik.
Die oorsaak van MRP – wat insluit nek-, torakale- en lae rugpyn – in hierdie groep sluit ʼn verskeidenheid faktore in soos byvoorbeeld leefstyl-, fisiese, skoolverwante sowel as psigososiale faktore.
Navorsing het getoon dat die volgende kwessies verband hou met die voorkoms van MRP:
- Fisiese faktore soos ouderdom, geslag, postuur en duur van sittende posisie.
- Leefstylfaktore soos fisiese fiksheid en voeding.
- Skoolverwante faktore soos die gebruik van ʼn rugsak en die ergonomika van skoolmeubels.
- Psigososiale faktore soos angs, depressie en psigosomatiese faktore.
"Dit is nog onbekend of hierdie faktore die werklike oorsaaklike faktore is. MRP-toestande is dikwels herhalend van aard en kom regdeur die loop van die lewe voor," het Brink gesê.
Brink gee die volgende wenke hoe om MRP by jong mense te voorkom:
- Moenie te regop, te vorentoe of met jou oë laer as jou ore sit nie. Vermy sittende posisies waar die hoeke van die nek, toraks en lae rug grens aan die perke van die toelaatbare bewegingsfeer.
- Kinders en tieners behoort die tyd wat hulle sit soveel as moontlik te beperk. Kinders moet nie langer as een uur se skermtyd (televisie en rekenaars) per dag oorskry nie en tieners nie meer as twee ure per dag nie.
- Kinders en tieners moet aangemoedig word om daagliks ten minste 60 minute lank fisiese aktiwiteite of oefening te doen. Hierdie aktiwiteite moet ten minste aërobiese oefening vir drie dae insluit en aktiwiteite wat spiere en bene versterk ook vir drie dae.
- ʼn Goed gebalanseerde dieet, wat ʼn oormatige gebruik van vitamien B12, wat voorkom in eiers, ontbytgrane en vleis beperk, is belangrik.
- Kinders en tieners moet skoolrugsakke dra wat minder as 10 tot 20 persent van hulle liggaamsgewig weeg, en wye opgestopte skouerbande oor albei skouers het. Hulle moet dit ook net vir beperkte tye dra.
- Laastens kan terapeutiese fisiese kondisionering en fisiese terapie gebruik word om MRP by kinders en tieners te behandel.
Medianavrae
Bemarkingskoördineerder
Mandi Barnard
+27 (0)21 938 9505
Afdeling Bemarking en Kommunikasie
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch
Webwerf: www.sun.ac.za/health
Facebook: www.facebook.com/SUhealthsci
Twitter: @SUhealthsci