
Sportwetenskap-alumna op pad na Rio
Vir Aimee Barrett, 'n alumna van die Universiteit Stellenbosch se Departement Sportwetenskap, is haar insluiting op die skeidsregterpaneel vir die 2016 Olimpiese Spele in Rio 'n droom wat waar geword het.
Suid-Afrikaanse rugbyskeidsregters Craig Joubert, Rasta Rasivhenge, Marius van der Westhuizen, Ben Crouse en Aimee Barrett is deel van die elite-groep van internasionale skeidsregters wat gekies is om op te tree by die Spele in Rio. Crouse, Joubert, Van der Westhuizen en Rasivhenge is op die paneel vir die manstoernooi (9-11 Augustus), terwyl Rasivhenge en Barrett van 6-8 Augustus by die vroue-toernooi in die Deodora-stadion in Rio de Janeiro betrokke sal wees.
Rugby is weer deel van die Olimpiese Spele na 'n afwesigheid van 92 jaar. Rio 2016 sal dus 'n beduidende oomblik in elk van die skeidsregters se loopbane wees.
"Dit sink eintlik nog in, maar dit is beslis 'n droom wat waar geword. Dit is 'n eer om my land te verteenwoordig in die sport wat ek liefhet en ek tel die dae af," het Barrett gesê.
"Dis 'n groot hupstoot vir my skeidsregtersloopbaan – toplande met hul beste spelers neem aan die toernooi deel en ek kon nie vir 'n groter uitdaging vra nie. Hopelik is die geleentheid die begin van groter dinge, soos die Wêreldbeker-rugbytoernooi. "
Barrett het haar skeidsregtersloopbaan in 2014 begin. Sy het as skeidsregter vir 'n paar hoërskoolwedstryde opgetree en is genooi om SARU se nasionale vroueskeidsregterskamp by te woon. In 2015 het sy aan 'n skeidsregteruitruilprogram na Doebai en die VSA deelgeneem en was sy ook die skeidsregter in die eindstryd van verskeie vrouerugbytoernooie.
Barrett dien tans op SARU se nasionale vroue-paneel en is ook 'n skeidsregter in die Wêreld Sewes-rugbyreeks vir vroue.
"Ek geniet die geestelike en fisieke uitdaging wat elke wedstryd kan bring. Ek het jare lank self rugby gespeel, maar niks kan vergelyk met die uitdaging wat kom met die besluitneming wanneer jy die fluitjie dra nie."
Barrett het haar MSc in 2015 by die Departement Sportwetenskap gedoen. Die titel van haar studie was: "Die epidemiologie van koshuisrugbybeserings aan die Universiteit Stellenbosch".