
Só werk die Kantoor van die Bedryfshoof vanjaar
Die pos van Bedryfshoof aan die Universiteit Stellenbosch (US) is tans in 'n oorgangsfase weens die naderende aftrede van prof Leopoldt van Huyssteen (links bo) aan die einde van 2017.
Die leisels word vanjaar geleidelik aan die aangewese Bedryfshoof, prof Stan du Plessis (regs bo), oorhandig. Hy het in Januarie 2017 in hierdie hoedanigheid begin werk, en neem amptelik aan die begin van 2018 by prof Van Huyssteen oor. Tot dan deel hulle die pligte en verantwoordelikhede van die pos en neem saam besluite.
Alle kommunikasie met die Bedryfshoof se kantoor geskied egter steeds deur die gewone, enkele kanaal, naamlik persoonlike assistent me Mariëtte Hanekom, tel 021 808 2601 en e-pos [email protected]. Besoek gerus dié webblad vir meer inligting (http://www.sun.ac.za/afrikaans/management/Pages/operations-and-finance.aspx).
Oor Bedryf en Finansies
Die Kantoor van die Bedryfshoof is die Verantwoordelikheidsentrum vir bedryf en Finansies aan die US. Die volgende professionele en administratiewe ondersteuningsdienste word hier sinvol tot voordeel van die Universiteit saamgevoeg:
- finansiële beplanning en bestuur;
- die uitbreiding en instandhouding van fisiese infrastruktuur (werk-, leer- en leefruimtes) en kampussekuriteit;
- die bestuur van institusionele projekte;
- die bestuur van die US se kommersiële dienste asook die kommersialisering van intellektuele eiendom;
- die bevordering van entrepreneurskap onder studente en personeel;
- die bestuur van sport as strategiese bate; en
- die instandhouding en bestuur van die Universiteit se kampusmeesterplan, mobiliteitsplan (parkering, pendeldiens en toegangsbeheer) en 'n risiko-bestuurstelsel.
Deur hul onderskeie werksaamhede dra die verantwoordelikheidsentrum se verskillende afdelings – Fasiliteitsbestuur, Innovus, Maties Sport en Finansies – by tot ʼn geïntegreerde steundiensomgewing.