
Slim watermeter nou by 100 skole bekendgestel
08 November 2017
Die slim watermeter, ontwikkel deur prof Thinus Booysen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch gaan danksy ʼn borgskap deur die Shoprite-groep by ʼn 100 skole in die Wes-Kaap aangebring word.
Dié inisiatief is vandag (8 November) by die Wes-Kaapse radiostasie, Cape Talk, in Kaapstad bekendgestel. Na verwagting behoort ʼn miljoen liter water per dag bespaar te word.
Die projek word tans deur die Universiteit se tegnologie-oordrag maatskappy, Innovus, gekommersialiseer en geïnkubeer by die Nedbank Universiteit Stellenbosch LaunchLab, die US se besigheidsinkubator, via die afwentelmaatskappy, Bridgiot (Bridge to the Internet of Things).