
Sewe Steinhoff Maties vir SA o.21-hokkiespanne gekies
Sewe spelers van die Steinhoff Maties Hokkieklub is gekies om Suid-Afrika later vanjaar by die o.21-Wêreldbekertoernooi in Indië te verteenwoordig.
Tarryn Glasby, Dani Cairns en Christine Seggie is by die SA o.21-vrouespan ingesluit, terwyl Alex Stewart, Robert McKinley, Matt de Sousa en Charles Bowren vir die mansspan gekies is. Stewart is ook as die kaptein van die SA o.21-mansspan aangewys vir die toernooi wat in Desember plaasvind.
"Om die kaptein van die span te wees, is 'n eer en voorreg," sê Stewart.
Hy glo die huidige o.21-span verteenwoordig die toekoms van Suid-Afrikaanse hokkie.
"Ons het agt spelers in die span wat vroeër vanjaar ons debuut vir die senior span gemaak het toe Suid-Afrika teen Ierland, België en Kanada gespeel het. Ons het goed gespeel en waardevolle ervaring opgedoen."
Stewart is die tweede Matie om die SA o.21-span in die afgelope paar jaar te lei nadat Dylan Swanepoel dit in 2013 gedoen het. Swanepoel is die huidige kaptein van Maties se mansspan.
"Om die leier en kaptein van die span te wees is 'n groot taak, maar ek glo ek is gereed daarvoor. Ek kry baie leiding en raad van Dylan, senior spelers, afrigters en my pa!"
Stewart is die seun van die legendariese Matie Leith Stewart, wat ook vir Suid-Afrika hokkie gespeel het.