Skip to main content
Rugpyn kan voorkom en bestuur word

Rugpyn kan voorkom en bestuur word

FMHS Marketing & Communications
30 Augustus 2016

​Rugpyn is ʼn baie algemene probleem wat alle bevolkingsgroepe regoor die wêreld raak. Navorsing het getoon dat een uit elke twee volwassenes en een uit elke drie kinders of tieners in Afrika op enige tydstip probleme met rugpyn ervaar.

Daar is egter bewyse dat spesifieke oefening die ontwikkeling van rugpyn onder kinders en tieners kan voorkom en die kanse op herhaalde voorkoms kan verminder. Dit is veral belangrik omdat rugpyn gedurende die kinder- en tienerjare die sterkste aanduider is van aanhoudende rugpyn by volwassenes.

Dít is volgens prof Quinette Louw, ʼn fisioterapeut en professor in die Afdeling Fisioterapie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US).

Daar is nuwe bewyse wat toon dat mense met rugpyn se vermoë om hulself finansieel te onderhou en welvaart te skep, laer is. Dit is veral belangrik vir lae- en middelinkomstelande soos Suid-Afrika waar mense in die informele arbeidsmark nie deur wetgewing beskerm word nie. Louw sê dat rugpyn ʼn persoon se algemene gesondheid beïnvloed en hulle deelname aan werks-, gesins- en sosiale aktiwiteite beperk.

Rugpyn kan aanvanklik veroorsaak word deur die wanfunksionering of steurnis van ʼn spesifieke been, spier of neutrale struktuur, maar aanhoudende rugpyn ontwikkel in ʼn probleem met baie faktore waarvoor daar nie net een oorsaak is nie.

Daarom is daar tans bewysgebaseerde riglyne wat breedvoerige mediese ondersoeke ontmoedig om ʼn spesifieke oorsaak vir aanhoudende rugpyn te vind. Dr Linzette Morris, ʼn senior dosent in Fisioterapie by die FGGW, verduidelik dat baie van die abnormaliteite wat met skanderings en x-strale ontdek word nie noodwendig met die pyn verband hou nie, omdat soortgelyke strukturele afwykings van die ruggraat voorkom by baie mense sonder rugpyn.

In die meeste gevalle verg rugpyn nie dringende behandeling nie en sal dit sonder behandeling binne ses weke opklaar. Morris stel egter voor dat ʼn dokter onmiddellik gespreek word wanneer rugpyn as gevolg van trauma voorkom, of indien die pyn met een van die volgende simptome gepaardgaan: koors en kouerillings, rugswelsel, onlangse onverklaarde gewigsverlies, beduidende swakheid in die bene, skielike inkontinensie van die maag en/of blaas, gevoelloosheid in die geslagsdele, boude en rektum en aanhoudende maagpyn.

Leefstylveranderings word ook sterk aanbeveel as doeltreffende maniere waarmee rugpyn self bestuur kan word. Dit sluit in gereelde fisiese oefening, gewigsverlies en die handhawing van ʼn goeie postuur.

Morris noem dat ʼn fisioterapeut kan help om toepaslike en veilige oefening voor te skryf aan mense wat aan rugpyn ly. "Maar rugpynlyers moet besef dat dit ʼn herhalende en aanhoudende probleem is en dit is uiters belangrik om oefeningsprogramme en strategieë wat daarop gemik is om die opvlamming van rugpyn te verminder, getrou na te kom."