
Rektor verkies tot Adviesraad van gesaghebbende internasionale vaktydskrif
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), en ook ʼn gerekende navorser oor gastroënterologie, is onlangs tot die Adviesraad van die akademiese tydskrif Gastroenterology verkies.
As die mees prominente vaktydskrif oor siektes van, onder andere, die maag, dunderm, dikderm en rektum, beklee Gastroenterology die eerste posisie uit 78 tydskrifte in die Gastroënterologie en Hepatologie-kategorie op die 2015 Journal Citation Reports wat deur Thomson Reuters gepubliseer is.
Dit lewer die nuutste en gesaghebbende dekking van beide basiese en kliniese gastroënterologie en oorbrug ook die gaping tussen basiese en kliniese wetenskap deur omvattende resensies en perspektiewe oor belangrike onderwerpe soos pankreatitis (ontsteking van die pankreas) en lewersiekte te publiseer.
"Dit is 'n groot eer en voorreg om op die Adviesraad van so 'n gesogte en gesaghebbende vaktydskrif aangestel te word. Dit bied my die geleentheid om nie net die betrokke dissipline te bevorder nie, maar ook om op hoogte te bly van die jongste verwikkelinge in hierdie veld," het De Villiers gesê.
Volgens Gastroenterology se hoofredakteur, Rick Peek, gaan die vaktydskrif voort om die mees gebruikte/gesiteerde tydskrif ter wêreld op die gebiede van gastroënterologie en hepatologie te wees. Dit is tans een van die mees gesiteerde spesialiteitstydskrifte in enige veld.
Peek het gesê hulle hoop De Villiers, ʼn voormalige hoof van gastroënterologie aan die Universiteit van Kentucky in die VSA, kan 'n baken vir Gastroenterology wees, en help om bewustheid oor wat dit bied te kweek en US-navorsers aan te moedig om hul beste werk aan die vaktydskrif vir publikasie voor te lê.
- Besoek www.gastrojournal.org/loi/ygast vir meer inligting oor Gastroenterology.