
Rektor gee hupstoot aan Die Vlakte-beursfonds
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het R500 000 geskenk aan Die Vlakte-beursfonds wat verlede jaar met sy inhuldiging in die lewe geroep is.
Maandag (18 April 2016) het hy bladgeskud met die eerste vyf ontvangers van die beurs tydens 'n klein geleentheid by die US se Herinneringskamer in die Universiteitsargief in die Wilcocks-gebou op die Stellenbosch-kampus.
Prof De Villiers het in April 2015 aangekondig die Universiteit stig die beursfonds as 'n vorm van regstelling en ontwikkeling vir nasate van mense wat in die 1960's en 1970's onder gedwonge verskuiwings deurgeloop het uit Die Vlakte, ʼn woonbuurt teenaan die middedorp wat deels met die US oorvleuel het.
Die Rektor het die skenking wat hy in die beursfonds gestort het, ontvang van die Harry Crossley-stigting, wat dit aan hom toegeken het vir uitsonderlike leierskap in 2015. Die Stigting word as een van die US se grootste skenkers beskou en het die afgelope 22 jaar ruim bygedra tot verskeie nagraadse beursfondse en navorsing aan die Universiteit.
"Die aankondiging van Die Vlakte-beursfonds was een van my eerste take as Rektor van die Universiteit Stellenbosch, so dit lê my na aan die hart. Ek het besluit om 'n skenking wat ek van die Harry Crossley-stigting ontvang het, in Die Vlakte-beursfonds te stort om dit te versterk en om ons in 'n finansiële posisie te plaas om selfs meer beurse in die toekoms toe te ken," het prof De Villiers gesê.
Talle ander skenkers het ook ruim tot Die Vlakte-beursfonds bygedra sedert dit in 2015 tot stand gebring is.
"Hoër onderwys is 'n kragtige vorm van bemagtiging en dit is dus vir my ʼn prioriteit om geleenthede vir studente in finansiële nood te skep," het De Villiers gesê.
Volgens mnr Arrie Hanekom, Hoof van die US se Voorgraadse Beurse- en Leningsafdeling, is Die Vlakte-studiebeurs vroeër vanjaar aan vyf kandidate toegeken. Die beurs dek basiese klasgeld vir die minimumduur van ʼn student se kursus. Die ontvangers se studierigtings wissel van opvoedkunde en ingenieurswese tot geneeskunde en sosiale wetenskappe.
"'n Gemeenskapskomitee is op die been gebring om te help met die verifikasie van die aansoekers se verbintenis met Die Vlakte, en die toekenningskriteria is deur die beurskomitee toegepas," het Hanekom gesê.
'n Maksimum van vyf Vlakte-studiebeurse word per jaar toegeken aan persone wat self in hierdie buurt gewoon het – of aan hul kinders en kleinkinders – wat aan die kriteria voldoen. Huidige en voornemende studente wat vir 'n voorgraadse of 'n eerste nagraadse program wil registreer, kan vir die beurs aansoek doen. Aansoekers wat nie meer in die Stellenbosch-omgewing woon nie, maar wat bewys kan lewer van hul ouers of grootouers se uitsetting, word ook oorweeg. Suksesvolle akademiese vordering is 'n voorvereiste vir voortsetting van die beurs.
Geskiedenis van Die Vlakte
Die Vlakte was 'n woonbuurt naby die middedorp van Stellenbosch in die gebied tussen Muller-, Bird- en Joubertstraat en Merrimanlaan. Hoofsaaklik bruin mense het hier gewoon, maar in die 1960's is hulle ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif. Die Universiteit het destyds nie as instelling protes aangeteken nie, en ook later op onteiende grond gebou.
Vir dekades was dié verskuiwings en die Slag van Andringastraat nie deel van die amptelike geskiedenis van Stellenbosch nie. Dit is eers op rekord geplaas met die publikasie van In ons Bloed (2006) en Nog altyd hier gewees: Die storie van ʼn Stellenbosse gemeenskap (2007) – publikasies oor die geskiedenis van die gebied wat deur die Universiteit gesteun is.
Herinneringskamer
Die Universiteit het in 2013 die Herinneringskamer in die Wilcocks-gebou geopen as 'n gebaar van versoening tussen die US en die dorp se bruin gemeenskap. Dit is 'n eietydse uitstalruimte waar die versweë geskiedenis van die mense van Die Vlakte vertel word, en is oop vir die publiek.
Slag van Andringastraat
Die Herinneringskamer was die breinkind van wyle prof Russel Botman, op daardie tydstip Rektor en Visekanselier van die US. Dit is voorafgegaan deur ʼn verskoning deur studenteleiers van die manskoshuis Dagbreek oor die Slag van Andringastraat in 1940, toe wit studente van die US bruin inwoners van Die Vlakte aangeval het en hul huise beskadig het. Daar was ook ontmoeting tussen studente en destydse inwoners van Andringastraat by Prof Botman se huis.
Lückhoff Skool
Die gedwonge verskuiwings in die 1960's het daartoe gelei dat die Lückhoff Skool in Banghoekweg aan die Universiteit gegee is. Die skoolgebou is in 2007 simbolies aan die gemeenskap opgedra, en huisves nou verskeie gemeenskapsorganisasies asook die US se Afdeling vir Sosiale Impak. In 2008 en 2009 is 'n permanente foto-uitstalling in die gebou aangebring om erkenning te gee aan oudleerlinge van die skool wat prominente persone in die Suid-Afrikaanse samelewing geword het.
Installasie in Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou
In 2015 is ʼn installasie oor gedwonge verskuiwings in Stellenbosch op die 2de verdieping van die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou geïnstalleer. Dit is op 12 November 2015 ingewy, en is oop vir die publiek. Die installasie bestaan uit panele (met teks, foto's, kaarte en stories) wat vertel wat gebeur het toe Die Vlakte in 1964 tot ʼn Wit Groepsgebied verklaar is en mense wat as bruin geklassifiseer was, verskuif is.
- Foto: Prof Wim de Villiers, middel, wens beursontvanger Grizelda Stuurman geluk. Die ander ontvangers is, van links af, Wesley Gabriels, Cleo Laurence, Brad Poole en Melissa Hector (fotograaf: Anton Jordaan).