
Rektor doen 'n beroep op Maties om standpunt in te neem vir sosiale geregtigheid
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, het in 'n video 'n beroep op alle studente en personeel gedoen om standpunt in te neem teen sosiale ongeregtigheid. Dit kom na 'n klag van verkragting die afgelope naweek. Hy het gevra dat Matie-mans eerlike gesprekke met mekaar sal voer oor wat dit beteken om 'n man te wees. Wat is die raamwerk vir manlikheid wat konsekwent met sosiale geregtigheid is? Hoe verseker ons almal besef dat mans én vroue op dieselfde menseregte geregtig is? Klik hier vir die video of lees die teks hieronder.
---------------------------------
Teks van video deur prof Wim de Villiers, uitgereik op 5 April 2016:
Soos jy waarskynlik teen die tyd weet, is daar die naweek 'n klag van verkragting op ons Stellenbosch kampus aangemeld. Dit volg op 'n soortgelyke insident vroeër vanjaar, waarvan ons bewus is. Dit is onaanvaarbaar en ons moet iets hieraan doen.
Die vraag is wat? Hoe reageer ons as die Universiteit hierop? Is dit 'n sekuriteitskwessie? Verseker vorm dit deel daarvan. Die Universiteit Stellenbosch het die afgelope paar jaar baie gedoen om kampusveiligheid op te skerp. Maar dit is nie die enigste aspek nie.
Wat van aanmeldingsprosedures, dissiplinêre stappe en regsprosesse? Weereens, het ons baie goeie prosesse in plek. Daar is tekortkominge, maar ek dink nie dit is waar die groot probleem lê nie.
Daar bestaan die wanindruk dat sekuriteitsmaatreëls en kriminele vervolging verkragting kan voorkom. Dit kan nie. Dit is belangrike afskrikmiddels, maar dit sal nie die probleem van geslagsgeweld wesenlik oplos nie.
Die probleem strek veel verder. Dit gaan oor 'n heersende houding in die samelewing van disrespek teenoor vroue, wat as die norm aanvaar word. Dit is 'n probleem in ons gemeenskap in geheel – nie net Stellenbosch nie. Ons kampus het dieselfde mense as in ons skole, politieke- en leierskapsomgewings, in ons winkels, strate en kerke. Ons is nie geïsoleerd nie. Ons word beïnvloed deur die breër gemeenskap en ons kan ook die gemeenskap beïnvloed – dit is ons plig. Ons moet Suid-Afrika ʼn beter plek vir almal help maak.
Geslagsgeweld is ʼn probleem wat ons met die breër gemeenskap deel, en ons het 'n spesifieke verantwoordelikheid om dit aan te spreek.
So, hoe doen ons dit?
Daar word reeds baie gedoen in terme van bewusmaking om denke te verander. Ons het ook onlangs ʼn hoë-vlak taakspan aangewys om geslagsgeweld te ondersoek en voorstelle te maak.
Maar weereens, werkswinkels en taakspanne – hoe belangrik ook al – is nie genoeg nie.
Almal van ons moet ernstig introspeksie doen. Ons moet die wete onwikkel dat respek vir vroue nie versoenbaar is met gedrag soos verbale misbruik, seksuele teistering, onvanpaste grappies en wolwefluite nie.
Dis ʼn gesprek hierdie wat mans moet hê. Wat beteken dit om 'n man te wees? Wat is die raamwerk vir manlikheid wat konsekwent met sosiale geregtigheid is? Hoe verseker ons almal besef dat mans én vroue op dieselfde menseregte geregtig is? Dat almal se stem tel.
Wanneer mans seksistiese opmerkings maak, dit duld of daaroor lag, of net stilbly, dra dit by tot geslagsgeweld. Dit is wat moet stop.
Mans – nie net vroue nie – moet standpunt inneem teen die objektivering van vroue.
Ons plig as Universiteit is om graduandi te ontwikkel wat sosiale ongeregtigheid kan erken en daarop kan reageer – mense wat dit kan aanspreek. Ons sê ons is verbind tot inklusiwiteit en gelykheid. Kom ons pas dit toe.
Kom ons werk saam om gemeenskappe te skep waar almal – mans en vroue – veilig voel en nie blootgestel word aan disrespek en geweldsmisdaad nie. Dit kan ons doen deur solidariteit te toon ten opsigte van hierdie kwessie.
Hier is my pleidooi aan studente en personeellede – aan die Universiteitsgemeenskap in geheel. Kom ons neem standpunt in teen verkragting en geslagsmisdaad. Kom ons neem standpunt in teen seksisme en die objektivering van vroue. Kom ons staan op vir sosiale geregtigheid.