Skip to main content
Prof Joan Hambidge tot US-raad verkies

Prof Joan Hambidge tot US-raad verkies

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
27 Junie 2016

Prof Joan Hambidge, akademikus in die Skool vir Tale aan die Universiteit van Kaapstad en ʼn  openbare intellektueel, is deur lede van die Universiteit Stellenbosch (US) se Konvokasie tot die Universiteitsraad verkies.

Prof Hambidge se termyn begin op 22 Junie 2016 en verstryk op 1 April 2018. Die vakature het ontstaan na die bedanking van dr George du Toit wat deur die Konvokasie vir die termyn 2 April 2014 tot 1 April 2018, tot lid van die Universiteitsraad verkies was.

Lede van die Konvokasie is vroeër vanjaar versoek om nominasies in te dien vir die vul van hierdie vakature. Aangesien meer as een kandidaat genomineer is, is ʼn verkiesing gehou wat op 21 Junie 2016 gesluit het. Konvokasielede kon op vyf wyses stem – via faks, e-pos, per pos, per hand of elektronies.

Die benoemde kandidate was prof TT (Tito) Mboweni, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Minister van Arbeid en arbeidswetgewing baanbreker; dr CJ (Corinne) Oosthuizen, ʼn kliniese sielkundige en konsultant en mnre JS (Job) Amupanda, ʼn akademikus verbonde aan die Universiteit van Namibië en CG (Christian) van Schalkwyk, US-alumnus, professioneel gekwalifiseer as prokureur en geoktrooieerde rekenmeester.