Skip to main content
Prof Arnold Smit oor sy nuwe rol as USB se hoof: Sosiale Impak

Prof Arnold Smit oor sy nuwe rol as USB se hoof: Sosiale Impak

Heindrich Wyngaard
15 Maart 2016

​Die USB se nuwe hoof: Sosiale Impak, prof Arnold Smit, sê die vraag kan maklik gevra word waarom 'n bestuurskool klem lê op sosiale impak pleks van gewoon sake doen.

Hy voer 'n teenargument aan, naamlik dat bestuurskole verplig is om hulself af te vra hoe hulle deur al hul aktiwiteite tot voordeel van die breë samelewing kan funksioneer.

"Dit het werklik 'n belangrike vraag vir bestuurskole geraak, veral sedert die resessie [die internasionale finansiële krisis van 2008-2009]: Hoe kan hulle bestuurders ontwikkel wat waarde kan toevoeg nie net tot die sakewêreld nie, maar ook tot die samelewing as geheel en al sy instellings en gemeenskappe?"

Hy sê dit is vir die USB belangrik dat die sake in die samelewing aspek, oftewel sosiale impak, deel uitmaak van die studente se kernleerprogram, die navorsing wat gedoen word en ook die vaardigheidsontwikkeling van toekomstige bestuurders.

Tweedens, het sosiale impak alles te make met die stem van die bestuurskool. "Dit sluit in dit waarby ons betrokke raak, die gesprekke waaraan ons deelneem en die vorming van openbare mening oor samelewingskwessies soos ongelykheid, armoede en korrupsie," verduidelik Smit.

Volgens hom is die bestuurskool se projekte – soos die Kleinsakeakademie, leierskapontwikkelingsprogramme vir skoolhoofde en entrepreneursontwikkeling – uiters belangrik wat sy benadering tot sosiale impak betref.

"Dit help natuurlik ook nie as ons op eie houtjie werk nie. Ons wil graag dit wat ons doen aan internasionale organisasies soos die Globale Verantwoordelike Leierskapinisiatief (GRLI) en die akkreditasieliggame vir bestuurskole koppel."

Smit voeg by: "Ons het bo en behalwe hierdie netwerke ook 'n bestuursopleidingsmaatskappy, USB Bestuursontwikkeling, wat hierdie agenda na ondernemings, die openbare sektor en samelewingsektore neem – buite ons landsgrense tot in ander dele van Afrika en die wêreld."

Kyk na 'n video-opname van die onderhoud op die USB se YouTube-kanaal - https://www.youtube.com/watch…;