Skip to main content
PopART study toon gemeenskaps-wye strategie kan MIV-infeksies verminder

PopART study toon gemeenskaps-wye strategie kan MIV-infeksies verminder

FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
05 Maart 2019

Navorsers het die resultate van van die HPTN 071 (PopART) studie bekendgemaak by die jaarlikse Konferensie oor Retrovirusse en Opportunistiese Infeksies (Conference on Retroviruses and Opportunistic Infections [CROI]) in Seattle, in die Verenigde State. Die studie het die impak ondersoek van 'n verskeidenheid van MIV-intervensies op gemeenskaps-vlak MIV voorkoms in stedelike gemeenskappe en gemeenskappe op die rand van stedelike gebiede in Zambië en in Suid-Afrika. Bevindings van HPTN 071 (PopART) toon die lewering van 'n MIV-voorkomingstrategie, wat die volgende aspekte insluit, kan lei tot 'n merkbare afname in nuwe MIV-infeksies: om MIV toetsing tuis aan almal beskikbaar te maak, met onmiddellike verwysing vir MIV-sorg, asook behandeling vir mense met MIV binne die bestaande behandelingsriglyne in spesifieke lande.

“Ons het 'n baie beduidende afname van 30 persent gesien in nuwe MIV infeksies, waar 'n voorkomingstrategie gebruik is wat strook met spesifieke lande se riglyne," volgens Richard Hayes, DSc, HPTN 071 protokol-voorsitter en professor van Epidemiologie en Internasionale Gesondheid by die London School of Hygiene and Tropical Medicine. “Ons het nie 'n soortgelyke afname gesien in nuwe MIV- infeksies in die geval waar 'n ander strategie gebruik is nie. Dit was naamlik waar universele MIV-behandeling aan pasiënte gebied is vanaf die aanvang van die studie. Bykomende analises word beoog om nadere ondersoek te doen oor die redes vir hierdie bevindings." 

Die HPTN 071 (PopART) studie het meer as 'n miljoen mense betrek wat in 21 gemeenskappe in Zambië en Suid-Afrika woon, wat beteken dit is die grootste MIV-voorkomingsproef tot dusver. Die studie het gekyk na die effekte van twee MIV-voorkomingstrategieë wat albei jaarliks MIV-toetsing aan mense in hulle huise bied, en dan help om kontak te maak met die plaaslike HIV- sorg- en behandelingsfasiliteite vir diegene wat met MIV saamleef. 

“In die geheel, het beide strategieë 'n verbetering in die kennis met betrekking tot MIV-status en die aanvaarding van behandeling teweeggebring," volgens Wafaa El-Sadr MD, MPH, MPA, HPTN mede-hoof ondersoeker, en professor van Epidemiologie en Geneeskunde by Columbia Universiteit in New York. “Hierdie bevindings toon dat 'n gekombineerde voorkomingstrategie soortgelyk aan PopART dalk 'n effektiewe manier kan wees om die globale MIV-epidemie teen te werk." 

HPTN 071 (PopART) navorsers ondersoek tans die effekte van die intervensies op ander studie-uitkomste, insluitende die voorkoms van herpes simplex virus-2, tuberkulose en MIV-verwante stigma. Daar word ook gewerk daaraan om die koste-effektiwiteit van die intervensies te beraam. 

“Terwyl die bevindings van die HPTN 071 (PopART) studie baie bemoedigend is, is die toetsing en behandelingsdekking nog nie na wense onder jong mense en mans in die algemeen nie, wat beteken verdere navorsing is nodig om hierdie belangrike leemtes te vul," het Sarah Fidler, MBBS, PhD, protokol mede-voorsitter en professor van Geneeskunde by die Imperial College in Londen gesê.

Die navorsingspan in Suid-Afrika is gelei deur Nulda Beyers, MD, PhD, en Peter Bock, MD, PhD, MPH, navorsers en kliniese praktisyns by die Desmond Tutu TB Sentrum (DTTC) in die Departement van Pediatrie en Kindergesondheid by die Universiteit van Stellenbosch. Die navorsingspan in Zambië is gelei deur Helen Ayles, MBBS, PhD, direkteur van navorsing, Zambart, Lusaka, Zambië.

In beide Suid-Afrika en Zambië het honderde gemeenskapsorgwerkers, wat sorg aan MIV-positiewe mense lewer, van huis tot huis gegaan oor 'n periode van vier jaar in 14 gemeenskappe waar intervensies plaasgevind het, met herhaalde aanbieding van MIV-toetsing en berading. Die DTTC het ook nou saamgewerk met die Wes-Kaapse Department van Gesondheid en die Stad Kaapstad se gesondheidsdepartement om sodoende kontak te bewerkstellig tussen MIV-positiewe studie-deelnemers en moontlike antiretrovirale behandeling by die klinieke. Die DTTC hoop dat die lesse wat hieruit geleer word sal bydra ter inligting en verandering van beide beleid en praktyk.

“Resultate van die HPTN 071 (PopART) studie ondersteun die volgehoue uitbreiding van die gemeenskapsgebaseerde platforms vir gesondheids-dienslewering. Daar is steeds enorme geleenthede vir die verbeterde lewering van gemeenskapsgebaseerde gesondheidsorgdienste en vir meer effektiewe samewerking met gemeenskappe om basiese gesondheidsdienste in areas te bied wat erg deur MIV getref is. Lesse wat uit PopART geleer is kan gebruik word om hierdie aktiwiteite te rugsteun op die pad vorentoe," sê Bock.

Die Stad Kaapstad het die resultate verwelkom.

“Daar is verskeie waardevolle lesse wat ons uit hierdie studie geleer het. Nie alleen het ons geleer watter kapasitiet daar binne die gesondheidsfasiliteite bestaan om die aantal MIV-toetse wat gedoen word te verhoog nie, maar dit het ook lig gewerp op die probleem wat kliënte ervaar tussen wanneer hule gediagnoseer word, en hulle behandeling 'n aanvang neem. Die belangrikste les was die een wat ons geleer het in verband met gereelde deur-tot-deur toetsing, wat nie tans deel is van die gesondheidsprogram nie – en hoe effektief dit kan wees deur te verseker dat meer mense hulle MIV-status ken," het die Stad se Burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Raadslid Zahid Badroodien gesê.

James Kruger, Direkteur: HIV AIDS STI & TB by die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement, het gesê: “Dit sal ons hopelik aanduidings gee oor hoe om ons intervensies te struktureer met 'n spesifieke plaaslike konteks in gedagte. Dit sal ons toelaat om ons beplanning op provinsiale-, distriks-, sub-distriks en plaaslik te doen met behulp van die uitkomste en die insette van die gemeenskappe. Ons het ook baie lesse geleer in verband met die ontplooiing van gemeeskapsgesondheidswerkers en ons sal hierdie dinge in oorweging neem wanneer ons moet besluit waaruit 'n gemeenskapsorg-pakket kan bestaan en hoe om toevoegings te maak tot ons bestaande gemeenskapsorg-pakkette."

Beatrice Morobe, 'n lid van die Gemeenskap se Raadgewende Liggaam, wat 'n skakel vorm tussen die gemeenskappe, die klinieke en die navorsers, het gesê dat die studie 'n betekenisvolle impak op die mense in die gemeenskappe gehad het.

“Dit het so baie mense gehelp. Meer mense is getoets vir MIV en het na die klinieke gegaan om behandel te word. Die manier waarop mense aangemoedig is om getoets te word en dan gehelp is om antiretrovirale middels by die klinieke te kry, as hulle MIV-positief was, het gehelp om die stigma teen te werk. Dit is op 'n baie positiewe manier gedoen. Ek is so trots daarop dat ek deel van hierdie studie kon gewees het."

“Die studiespan is baie dankbaar teenoor beide die Suid-Afrikaanse en die Zambiese deelnemers aan die studie, en ook aan die implementerende- en gemeenskapsmedewerkers, sonder wie hierdie navorsing onmoontlik sou gewees het," volgens Myron Cohen, MD, HPTN mede-hoofnavorser en direkteur van die Instituut van Globale Gesondheid by die Universiteit van North Carolina in Chapel Hill.

The HPTN 071 (PopART) studie is geborg deur die National Institute of Allergy and Infectious Diseases (NIAID) met primêre befondsing van die U.S. President's Emergency Plan for AIDS Relief (PEPFAR), wat deur die Kantoor van die U.S. Global AIDS Coordinator and Health Diplomacy in die VSA se Staatsdepartement bestuur word. Bykomende befondsing is verskaf deur die International Initiative for Impact Evaluation (3ie) met verdere ondersteuning van die Bill & Melinda Gates Stigting, sowel as die NIAID, die National Institute on Drug Abuse (NIDA) en die National Institute of Mental Health (NIMH), alles deel van die NIH.

Meer omtrent HPTN

​Die HIV Prevention Trials Network (HPTN) is 'n wêreldwye kliniese netwerk wat saamwerk om navorsers, etici, gemeenskapslede en ander medewerkers byeen te bring om die veiligheid en effektiwiteit van intervensies te toets wat gemik is daarop om die opdoening en oordrag van MIV teen te werk. NIAID, NIMH en NIDA is almal mede-befondsers van die HPTN. Die HPTN het saamgewerk met meer as 85 kliniese navorsingslokale in 19 lande om die nuwe MIV-verhoedingsintervensies en –strategieë te evalueer in bevolkings wat 'n buitengewoon hoë lading van hierdie siekte dra. Die HPTN navorsingsagenda – meer as 50 voortgaande of voltooide proewe met meer as 161,000 ingeskrewe deelnemers wat geëvalueer word – is hoofsaaklik gefokus op die gebruik van geïntegreerde strategieë: die gebruik van antiretrovirale middels (antiretrovirale terapie en pre-blootstellingsprofilakse); intervensies wat verband hou met middelmisbruik, veral dwelms wat ingespuit word; intervensies gemik op die vermindering van gedrag wat risiko meebring en strukturele intervensies. Vir meer inligting, besoek hptn.org.