Skip to main content
Ontmoet Allison Arendse: #MyTygerMaties60

Ontmoet Allison Arendse: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
10 Augustus 2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Allison Arendse.

Allison Arendse van Kuilsrivier wil eendag op haar sterfbed lê met die wete dat sy ten volle gelewe het: dat sy álles van haarself gegee het, elke passie nagejaag het, elke potensiaal bereik het en gewoeker het met elke talent wat aan haar geskenk is.

Sover vorder sy goed met die verwesenliking van dié buitengewone doelwit. Haar hoërskool CV sluit ondermeer in haar deelname aan Google se wetenskapsuitstalling, ’n silwer medalje by die nasionale been van die internasionale Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikse en kategoriewenner op streeks- en provinsialevlak in die Suid Afrikaanse Waterprys vir die Jeug met haar bekostigbare waterreiniger, gemik op landelike gemeenskappe in Afrika. Sy het ook met sewe onderskeidings matrikuleer.

Arendse, ’n eerstejaar MB,ChB-student, se volgende mikpunt is om as spesialis in ’n staatshospitaal in Suid-Afrika te werk. Sy het selfs ’n R500 000 beursgeleentheid van SASOL om chemiese ingenieurswese te studeer van die hand gewys ter wille van dié droom. "Ek het baie slapelose nagte gehad, maar die dag voor ek my antwoord aan SASOL moes stuur het ek die nuus ontvang dat ek ’n werwingsbeurs gegun is om medies op Stellenbosch te studeer. Nou doen ek waarvoor ek werklik ’n passie het."Meer oor Allison:
  • Verskuilde talente? “Ek kan verf en goed teken.”
  • Wat doen jy in jou ledige ure? “Ek speel klavier.”
  • Gunsteling TV-reeks? “Grey’s Anatomy.”
  • Watter boodskap sal jy op ’n advertensiebord skryf? “Ek kán. Ek wíl. Ek moét. Moet nooit opgee nie.”