Skip to main content
Nuwe US ombud is gereed om uitdagings aan te pak

Nuwe US ombud is gereed om uitdagings aan te pak

Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
01 November 2016

Integriteit, objektiwiteit en regverdigheid. Hierdie beginsels is hoog op die lys vir die nuutaangestelde ombud van Universiteit Stellenbosch (US) wat van November amptelik hierdie posisie beklee.

Advokaat Rina Meyer se rol as ombud sal wees om aandag te skenk aan probleme en klagtes van studente, ouers van studente en personeel wanneer bestaande universiteitstrukture nie bevredigende oplossing kan bied, of ontoereikend is.

"Ek dink my eerste en belangrikste plig in die hantering van kwessies, sal wees om te luister. Jy kan nie ʼn regverdige besluit tydens ʼn dispuut neem alvorens jy nie bereid is om na albei kante van die storie te luister nie."

Meyer sê dikwels tydens konflik, luister mense nie na mekaar nie. Om dié rede misluk vreedsame metodes dikwels en word litigasie as laaste uitweg gebruik.

"Mense is bang vir konflik. Hoe meer ʼn party se persoonlike emosies betrokke is, hoe moeiliker raak dit vir daardie persoon om rasioneel te luister. Vreedsame oplossings is ingewikkeld as alle partye nie behoorlik gehoor word nie. Jy moet aan mense 'n stem gee. Dit alleen help klaar met sy of haar probleem."

Meyer sien uit na haar termyn as ombud en meen sy is gereed om hierdie nuwe uitdaging aan te pak.

"Dit is ʼn voorreg en ʼn groot verantwoordelikheid wat die US op my skouers geplaas het."

"Meyer het verskeie grade en kwalifikasie behaal aan die Noord-Wes Universiteit, die Universiteit van Pretoria, die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) en die  Universiteit van Suid-Afrika. Haar LLB-graad het sy aan die US behaal.

Sy het haar aanvanklik in die onderwys bevind  (aan hoërskole in Somerset-Wes en Randburg) en was later staatsaanklaer, advokaat in die Hooggeregshof, deeltydse regsdosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland en assessor in die Hooggeregshof. 

Meyer is sedert 1994 lid van die Kaapse Balie en spesialiseer in mediasie, fasilitering en familiereg.

Sy neem oor as ombud van US by prof Julian Sonn.