
NOS-studente bied “ekspo”-take aan
Teen volgende jaar gaan hulle die onderwysers wees wat wetenskaptake uitdeel, maar op Donderdag (28 April) moes die Nagraadse Onderwys- (NOS-) studente die plakkate van hul navorsingsprojekte opstel en aan beoordelaars verduidelik waaroor hul onderwerp gaan.
Die NOS-studente wat Natuurwetenskap as 'n gespesialiseerde vakrigting volg, moes as deel van 'n kortkursus oor die wetenskaplike metode 'n taak soortgelyk aan dié wat by die jaarlikse Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes aangebied word, voorberei.
Die kursus is aangebied deur me Erika Hoffman, projekbestuurder by die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). SUNSEP en ander US-personeel en nagraadse studente is elke jaar betrokke by die Stellenbosch-streek se deelname aan dié gewilde wetenskapsekspo.
Die opdrag het NOS-studente die geleentheid gegee om die teorie en vaardighede wat hulle geleer het, in praktyk uit te oefen. Hulle moes hul navorsing op plakkate uitbeeld en dit ook aan beoordelaars verduidelik en vrae beantwoord.
Van die onderwerpe was: "Huishoudelike waterbesparing"; "Die invloed van sout op die kooktemperatuur van water", "Hoe beïnvloed kaffeïen die groei van plante" en "Biodiversiteit: Konflik tussen natuurbewaring, boer en roofdier".
Volgens Hoffman het die studente 'n kort tyd gehad om die take voor te berei en lê die waarde daarin dat hulle nou 'n beter begrip het van die proses waardeur leerders sal moet gaan wanneer hulle soortgelyke opdragte ontvang. Navorsingsprojekte vorm deel van die Natuurwetenskappe-skoolkurrikulum.
Dit is die eerste keer dat hierdie spesifieke opdrag aan die studente gegee is en indien moontlik, sal dit volgende jaar moontlik weer by die NOS-studieplan ingesluit word.