
Moenie mense met gestremdhede agterlaat nie
“Jy kan 'n nasie oordeel aan die manier waarop hy sy mees kwesbare burgers behandel." Hierdie aanhaling word aan 'n verskeidenheid bekende geskiedkundige persone soos Aristoteles en Mahatma Ghandi toegeskryf. Die betekenis daarvan het mettertyd uitgebrei en dit word in verskeie kontekste gebruik.
Binne die Suid-Afrikaanse konteks het die voormalige president, Thabo Mbeki, ook hierna verwys. Hy het geskryf dat een van die maatstawwe waaraan 'n samelewing se respek vir menseregte gemeet kan word, en 'n manier hoe die vlak van volwassenheid en ruimheid van gees geëvalueer kan word, die status is wat die samelewing aan sy mees kwesbare lede, soos sy gestremde persone, senior burgers en kinders gee. Hy het bygevoeg die konsep van 'n sorgsame samelewing word versterk wanneer ons erken gestremde persone geniet dieselfde regte as die res van die samelewing en dat hulle lewensgehalte bevorder moet word.
Hierdie vinjet, wat slegs drie jaar ná Suid-Afrika se demokrasiewording geskryf is, verwys na die belang daarvan om ongelykhede in fisieke vermoëns onder die land se burgers aan te pak. Ons het vandag heelwat verder gevorder op die pad na demokrasie, 'n stelsel wat verwelkom is omdat alle Suid-Afrikaners dit kan vier. Burgerlike vryhede verbeter selfuitdrukking en moedig minderhede aan om deel te neem aan die besluite wat hulle lewe raak. Dít is slegs enkele aspekte wat die norme van ons politieke en maatskaplike orde in 2018 bepaal. Sodanige demokratiese opvattings is ook geïntegreer in die manier wat staatsinstellings en staatsgefinansierde onderwysinstellings soos universiteite gemodelleer word.
Die vraag is egter: in watter mate het dit die lewe van diegene met gestremdhede verander terwyl hulle hul pad deur die verskillende sfere van die samelewing vind?
Ek besin graag oor hierdie kwessie deur te kyk na wat in ons onderwysomgewing gebeur. As 'n student met 'n gestremdheid het ek die onlangse bekendstelling van die hersiene Beleid oor Gestremdheidstoegang by my instelling, die Universiteit Stellenbosch, met groot belangstelling gevolg. Hierdie beleid poog om maniere uit te wys wat die Universiteit kan lei op die pad na universele toegang vir studente, personeel en besoekers met gestremdhede. Dit beliggaam bekende beginsels wat die belang van menswaardigheid, inklusiwiteit, sosiale geregtigheid en gelyke geleenthede benadruk en dit is deurgaans in pas met die groter visie van die instelling. Vanuit 'n wetgewenderaamwerk-perspektief erken die beleid ook die kritiese belang daarvan om te transformeer, soos uiteengesit in die Onderwyswitskrif 6 oor die bou van 'n inklusiewe onderwys- en opleidingstelsel.
Die Witskrif beklemtoon 'n belangrike vereiste vir 'n broodnodige paradigmaskuif. Dit is 'n skuif wat poog om weg te beweeg van die dominante en volgehoue fokus op die individualisering, professionalisering en depolitisering van gestremdheid wat deur die mediese model voorgeskryf word. In stede daarvan word die mediese model vervang deur die maatskaplike model van begrip rakende gestremdheid, wat bepaal dat die omgewing aangepas moet word in plaas daarvan dat die individu by die omgewing moet aanpas. Dit beteken losweg dat die onderwysstelsel toegerus moet wees met volledige kapasiteit om op die wye verskeidenheid leerstoornisse, ingesluit uiteenlopende spesiale behoeftes, te reageer. Met hierdie idee in gedagte, is daar groot vordering met 'n inklusiewe kurrikulum gemaak. Die Aanvullende Studies-module in ons Fakulteit Ingenieurswese is een manier waarop die bewussyn oor transformerende ruimtes uitgebrei en geïdentifiseer is as 'n manier om inklusiwiteit vanuit die oogpunt van ruimtelike en tegnologiese ontwerp te herbedink.
Wanneer ons op 7 September Loslitdag vier, sal dit goed wees om opnuut te besin oor die belang daarvan om 'n inklusiewe samelewing te bou wat die alledaagse stryd van persone met gestremdhede erken. Dit was vanjaar 'n besonder tragiese, maar introspektiewe jaar vir die gestremdheidsektor. Die Departement van Basiese Onderwys se mees onlangse slagspreuk “Geen kind word agtergelaat nie" word ongelukkig as taamlik ironies beskou en as leë retoriek vertolk. Een van die redes daarvoor is dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie vroeër vanjaar 'n ondersoek afgehandel en 'n verslag vrygestel oor die brand waarin drie dowe leerders aan die Noordwes Sekondêre Skool vir Dowes in Augustus 2015[CF2] op tragiese wyse in hulle slaap omgekom het. Drie-en-twintig ander kinders is beseer nadat hulle van die eerste verdieping van die koshuis gespring het om aan die brand te ontsnap. Nog 54 leerlinge is in die hospitaal opgeneem. Die deure van hulle koshuis was gesluit, skynbaar in 'n poging om vir die afwesigheid van na-uurse sorg te vergoed. Die verslag meld dat dit nie die eerste sodanige voorval was nie.
Hierdie tragedie maak dit duidelik dat daar steeds beduidende sistemiese tekortkominge in Suid-Afrika se “inklusiewe" onderwysstelsel bestaan. Dit sê ook baie oor die gevaarlike lewensomstandighede wat diegene met gestremdhede kwesbaar maak en hulle steeds moet trotseer. Verder wys dit wat gebeur wanneer daar van individue met spesifieke gestremdhede verwag word om by omgewings in te pas wat nie op hulle behoeftes reageer nie.
Insidente soos hierdie beklemtoon die dringendheid daarvan om ruimtes te transformeer sodat dit nie langer die mees kwesbare lede van ons samelewing strem of skend nie. Wanneer dit by die onderwys kom, pas een grootte nie almal nie. 'n Mens verander nie die kind nie, jy verander die omgewing. Op hierdie Loslitdag moet ons nie net 'helde vir 'n dag wees' nie, ons moet eerder ''n hand uitsteek en sorg dat mense met gestremdhede ten volle by alle sfere van die samelewing geïntegreer word.'
*Bongani Mapumulo is 'n student aan die Universiteit Stellenbosch.
Hierdie artikel het aanvanklik in News24 verskyn.