Skip to main content
Meer as 1000 onderwysers en leerders sal SUNCEP-vakansieonderrig-sessies bywoon

Meer as 1000 onderwysers en leerders sal SUNCEP-vakansieonderrig-sessies bywoon

SUNCEP / SUNSEP
25 Junie 2016

Die Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde se span sal tydens die skoolvakansie die gasheer wees van 15 verskillende onderriggeleenthede vir meer as 1000 onderwysers en leerders.

Die grootste van hierdie groepe is 'n groep van 600 Graad 5-12 leerders. Hulle sal in Worcester, Villiersdorp, Malmesbury, Atlantis, Franschhoek en Springbok byeenkom om aanvullende onderrigsessies in Wiskunde en Natuur-, Lewens- of Fisiese wetenskappe by te woon.

Een van die programme wat in Worcester aangebied word, is vir 'n groep leerders van ses plaasskole. Media24 het tydskrifte en koerante geskenk wat gebruik sal word in die geletterdheidskomponent van hierdie inisiatief.

In die Suid-, Noord- en Wes-Kaap kom 300 Hope@Maties Graad 12-leerders ook weer byeen vir hulle aanvullende onderrigprogramme. Hierdie leerders kom uit meer as 90 verskillende skole.

Die HOPE@Maties program is gemik op graad 12-leerders om hul vakkennis en vaardighede in Wiskunde, Natuur- en Skeikunde, en Rekeningkunde te verbeter sodat hulle kan toegang kry tot hoëronderwysprogramme in 2017. Die meeste van hierdie leerders het reeds aansoek gedoen om Maties te wees in 2017. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 Junie.

Sowat 80 tutors, geïdentifiseer deur die verskillende departemente van onderwys, sal saam met SUNSEP-personeellede by hierdie sessies betrokke wees.

In sommige van die inisiatiewe sal die leerders pendel om die sessies daagliks by te woon; in ander gevalle sal hulle in skoolkoshuise tuisgaan.

SUNSEP verwag meer as 100 onderwysers by 'n US-geakkrediteerde Wiskunde-kortkursus met 'n fokus op gemengde leer in Vredendal en Kuilsrivier. Dit is 'n opvolgsessie nadat hulle in April reeds met die kursus begin het.

Dit is een van SUNSEP se inisiatiewe om onderwysers verder vertroud te maak met die gebruik van tegnologie in hul onderrig. Die interaktiewe Wiskunde-materiaal is ook deur SUNSEP ontwikkel en sal weer op die onderwysers se tablette beskikbaar wees.

In Stellenbosch sal 'n groep van 50 skoolbestuurspanlede 'n kortkursus in Kurrikulumleierskap en -bestuur bywoon. In Kimberley sal ongeveer 60 nuwe skoolhoofde 'n induksiekursus bywoon om hulle te vergewis van skoolbestuurkwessies.

"Goeie skoolbestuur is belangrik en noodsaaklik vir leer om plaas te vind. Dit is waarom dit 'n noodsaaklike deel van SUNSEP se aanbod is," sê dr Trevor van Louw, Direkteur van SUNSEP.