
Maties gereed vir Varsity Netbal
Maties sal hul 2016 Varsity Netbal-veldtog volgende week tuis afskop wanneer hulle die verdedigende kampioen NWU-Pukke Maandag 5 September in die Coetzenburg-sentrum pak.
Die kragmeting gaan waarskynlik herinneringe van die 2015 Varsity Netbal-finaal oproep. NWU-Pukke het Maties verlede jaar met 50-37 in 'n volgepakte Coetzenburg-sentrum geklop en daarmee met die Varsity Netbal-kroon weggestap.
Hoewel hulle teen die verdedigende kampioen in 'n herhaling van verlede jaar se finaal speel, benader hulle dit nie as 'n herontmoeting nie, het Maties-kaptein Juline Rossouw gesê.
"Dit is 'n nuwe seisoen, 'n nuwe begin en 'n nuwe kans om te wys wat in ons steek. Ons fokus op onsself as 'n span."
Die span van Universiteit Stellenbosch het van krag tot krag gegaan in die Varsity Netbal-kompetisie en verbeter van vierde plek in 2014 na tweede plek verlede jaar.
Rossouw het gesê die span is oorgehaal vir die stryd. "Ons kan skaars wag vir Maandag om aan te breek. Ons is baie opgewonde en gereed vir aksie."
Hulle mikpunt vir hierdie seisoen is om verlede jaar se prestasie te ewenaar én daarop te verbeter.
"Ons weet wat dit verg om die finaal te bereik en ons gaan hierdie jaar nog harder werk. Ons wil met elke wedstryd vooruitgang en verbetering sien."
Met Varsity Netbal nou in sy vierde seisoen, hou dit aan om 'n platform vir universiteit-netbalspelers te skep om hul talent en vaardighede ten toon te stel.
"Ons sien Varsity Netbal as die inkubator vir Netbal SA," het Blanche De La Guerre, uitvoerende hoof van Netbal SA gesê. "En dit is ons droom dat elke meisie wat skool verlaat 'n geleentheid kry om in so goed georganiseerde en perfek gestruktureerde omgewing te speel."
Die aantal nasionale netbalspelers wat Varsity Netbal oplewer, het die afgelope paar jaar beduidend toegeneem.
Onlangse uitslae van top-netbalspanne het die sukses van Varsity Netbal se platform beklemtoon.
"Die Suid-Afrikaanse span is by die onlangse 2016 Wêrelduniversiteite-netbalkampioenskap in Miami as kampioen gekroon en ons is trots op die feit dat die hele span en bestuur uit Varsity Netbal-spelers saamgestel is," het Jana Arlow, Varsity Netbal-kodebestuurder, gesê. "Hierdie spelers sal vir seker hul universiteite gedurende die 2016 Varsity Netbal-toernooi trots maak."
Kry jou kaartjie vir die wedstryd en wys jou kleure ter ondersteuning van jou span. Vir die volle skedule, klik hier.
Spel begin om 19:00.
Koop kaartjies:
- Gebruik die Varsity Sport SA Mobiele App en ontvang een gratis kaartjie.
- Besoek http://varsitysportssa.com/ en koop 'n kaartjie aanlyn vir R10.
- Op die dag beskikbaar vir R20 (indien beskikbaar).
Foto:
Die Maties-netbalspan is: Suné Claassens (bestuurder), Abeline Olivier, Saskia Stander, Megan Gossmann, Jo Prins en Carla Werth. Middel: Charmaine Baard, Allison Malgas en Sasha-Lee Petersen. Agter: Cari Swart, Annerine Snyman, Nelandré Mostert, Juline Rossouw (kaptein), Somari Els, Christine Behan (hoofafrigter) en Stephanie Brandt.