
Matie-atlete oorheers Boland-atletiekkampioenskap
Die Matie-hoogspringer Keagan Fourie het Saterdag vir groot opwinding by die Coetzenburg-stadion gesorg toe hy 'n 45 jaar oue Boland-rekord in die stof laat byt het by die 2016 Boland Senior Atletiekkampioenskapsbyeenkoms.
Fourie het 'n hoogte van 2,20 m gespring en só die oudste heersende Boland-rekord (2,18 m) verbeter. Dit is op 12 April 1971 deur Emile Roussouw opgestel.
Matie-atlete het die kampioenskapsbyeenkoms oorheers en altesame 29 Boland-titels verower. Atlete het gepoog om te kwalifiseer vir die Boland-seniorspan wat op 15-16 April aan die 2016 ASA senior kampioenskapsbyeenkoms op Coetzenburg sal deelneem.
Tien Matie-atlete, insluitend Fourie, het kwalifiserende tye, afstande of hoogtes aangeteken om vir die Boland-span in aanmerking te kom. Hulle is Justine Palframan (200 m en 400 m), Mandie Brandt (800 m), Jean-Maré Senekal (400 m hekkies), Samantha Pretorius (verspring) Karin le Roux (hamergooi), Nienka du Toit (sewekamp), Shaun de Jager (400 m), Cheyne Rahme (paalspring) en Victor Hogan (diskus).
De Jager het ook die 100 m en 200 m gewen. Hy is 'n lid van Atletiek Suid-Afrika se span wat vandeesweek na die Portland in die VSA vertrek het om aan die Wêreld-binnenshuise kampioenskap (17-20 Maart) deel te neem. Hy is 'n lid van die 4 x 400 m-aflosspan.
Die voorlopige Boland-span sal Woensdag 16 Maart aangekondig word.
Verskeie meestersatlete het ook aan die kampioenskap deelgeneem en een van hulle, Neal Bredeveldt van Paarl-atletiekklub, het die SA ouderdomsgroeprekord (55-59 jaar) verbeter na 1,70 m. Hy het vanjaar, kort voor sy 55ste verjaarsdag, ook die ouderdomsgroeprekord (1,72m) vir 50-54 jaar opgestel.
- Die Paralimpiese medaljewenner Ilse Hayes is Saterdag as die kampioen in die 100 m vir vroue gekroon, een dag nadat sy as die Wes-Kaap se sportvrou van die jaar vir persone met gestremdhede aangewys is. Sy is gesiggestremd.