
Masiyile SSS leerders besoek Universiteit Stellenbosch
In die afgelope dekade het opleiding en onderwys 'n belangrike fokuspunt geword in veral opvoedkundig agtergeblewe gemeenskappe. Dit het ook beteken dat daar toenemend inisiatiewe geloods moet word om hierdie gemeenskappe te bereik en belowende studente te werf. Veral fakulteite soos Wetenskap, Fisika en Wiskunde moes in innoverende maniere belê om potensiële studente te bereik. Navorsing gedoen in die Basiese Onderwys sektor het bevind dat slegs 14 leerders vanuit 'n poel van 100 wat in Graad Twee ingeskryf het, sal kwalifiseer om aan 'n têrsiere instelling te kan studeer. Hierdie statistiek bring mee dat universiteite en hoër opleidingsinstansies nou 'n groter verantwoordelikheid het om leerders te bereik en te verseker dat opleiding vir studente toegangklik is.
Internasionale opleidingspesialis, Brian Tracey het die volgende gesê rakende groei en ontwikkeling: "Beweeg uit jou gemaksone. Jy kan slegs groei wanneer jy bereid is om ongemaklik te voel wanneer jy iets nuut probeer." Studente van Masiyile Senior Sekondêre Skool in Khayelitsha moes onlangs hulle gemaksones verskuif met hulle besoek aan die Universiteit Stellenbosch.
Die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies in samewerking met die fakulteite Wetenskap, Fisika en Wiskunde het interaktiewe aanbiedinge vir die studente voorberei tydens hierdie besoek. Leerders is soos eerstejaarstudente behandel en dit het onder meer 'n Wiskunde lesing, 'n begeleide toer van die Laser Navorsingsentrum en eksperimente met chemiese verbindings in die chemie periode ingesluit.
Dit was 'n wonderlike belewenis om die energie en entoesiasme van die studente te kon waarneem en hulle ywer om te leer was opmerklik. Die studente het elke ervaring en aanbieding ingedrink en met intense entoesiasme en fokus aan elke aktiwiteit deelgeneem. Hierdie ervaring het net weer klem geplaas op die feit dat studente floreer wanneer hulle in omgewings geplaas word wat hulle uitdaag en hulle belangstelling prikkel. Die interaktiewe omgewings wat die verskillende fakulteite en departemente geskep het, het dit vir studente moontlik gemaak om te droom, te verken en om te eksperimenteer.
Die terugvoer ontvang vanaf leerders en die onderwysers was positief en elke student en onderwyser was dit eens dat hulle werklik iets geleer het tydens die interaktiewe aanbiedinge en eksperimente. Een van die entoesiastiese leerders het tydens 'n gesprek die volgende gesê: "Ek het geleer dat ek moet ophou om in myself te twyfel. Ek het potensiaal binne my wat ontsluit kan word." Studente was verbaas oor die verskeidenheid hulpbronne beskikbaar in die laboratorium en gefassineer deur die spektrum van eksperimente wat gedoen kan word.
Me Kholiswa Dyonashe (Onderwyseres: Fisiese Wetenskap) het die volgende gesê: "Dit was 'n wonderlike ervaring vir die leerders en vir my. Ek was geraak om die leerders so opgewonde te sien met die uitvoering van eksperimente in die laboratorium. Die eksperimente wat ons gedoen het met die chemiese komponente was fantasties. Dit is altyd bevredigend om te sien dat die leerders op soveel verskillende vlakke deelneem en vrymoedig vrae vra."
As deel van verskeie inisiatiewe geloods deur die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, word daar waardevolle vennootskappe gevorm in die plaaslike gemeenskappe. Die doel hiermee is om potensiële studente te help om ingeligte besluite te kan neem met betrekking tot hulle studies. Alhoewel hierdie geleentheid nie aan alle skole in die land gegee kan word nie, kan daar van tegnologie en sosiale media platforms gebruik gemaak word om bewusmaking van die verskillende beroepsrigtings en kwalifikasies te skep.
Ons wil graag 'n spesiale woord van dank oordra aan Dr.Rehana Malgas Enus (Departement: Chemie), Professor Erich Rohwer ( Departement: Fisika) en Dr Gareth Boxall (Departement: Wiskunde) vir die aanbied van die interaktiewe sessies vir die leerders en dat julle leerders toegelaat het om die wêreld van wetenskap te ervaar op 'n praktiese wyse. Ons wil 'n verdere woord van dank oordra aan Professor Ingrid Rewitzky (Vise Dekaan: Department van Wetenskap) vir die waardevolle insigte rakende opleiding wat aan studente oorgedra is.
Ons sien uit daarna om al hoe meer in hierdie gemeenskappe te belê en ons jeug te sien floreer om 'n beter toekoms vir ons almal te kan verseker.