Skip to main content
Mariendahl se Terra Vino-stoet: die enigste Dohne Merino-stoet by 'n SA universiteit

Mariendahl se Terra Vino-stoet: die enigste Dohne Merino-stoet by 'n SA universiteit

Engela Duvenage
16 Mei 2017

Dis onder meer danksy die goedertrou en ondersteuning van die Dohne Merino-stoetboergemeenskap dat die Universiteit Stellenbosch (US) se eie Terra Vino-stoet van krag tot krag kan gaan. Dié stoet – die enigste van sy soort wat verbonde is aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit – het juis in die 1970's sy oorsprong gehad danksy die welwillendheid van Dohne Merino telers. Só vertel John Morris, plaasbestuurder van Mariendahl, een van twee proefplase wat deur die Universiteit bedryf word.

In Morris se kantoor is nog die vragbriewe van die eerste Dohne Merino-skape wat in die vroeë sewentigerjare uit veral die Stutterheim-omgewing per trein vanaf die Oos-Kaap na Stellenbosch aangekom het. Tussen 1973 en 1975 is 81 ooie, waarvan meeste dragtig was, deur 22 boere aan die US geskenk. Die stoet kon dus met 'n breë genetiese basis gevestig word. Die Terra Vino-stoet is in 1974 onder leiding van dr Jasper Coetzee by die Suid-Afrikaanse Dohne Merino Telersgenootskap geregisteer en is tans een van die oudstes in die land.

Verlede jaar het die Terra Vino-stoet die BKB-toekenning as die beste stoet in Streek 4 van die Wes-Kaap Provinsie gekry.  Op die 2017 Nasionale Veiling het die stoet 'n vyfde plek op die ranglys van topverkopers behaal en ramme uit die stoet is vir gemiddeld R22 667 verkoop.

Die stoet word veral gereken vir die geharde en aanpasbare skape wat geteel word, en vir die lampersentasie van by die 166% wat jaar op jaar behaal word.

"Ons teel geharde skape en selekteer al die afgelope 40 jaar vir vrugbaarheid," verklap Morris, wat reeds vir die afgelope 30 jaar die stoet onder hande het. Drie voltydse personeellede – Manuel Adams, Leonard Minnaar en Dino Adams – is saam met Morris verantwoordelik vir die stoet.

Die volgehoue samewerking en vennootskappe met ander telers regoor die land het dit oor die jare vir die Universiteit deurgaans moontlik gemaak om van die beste moontlike teelmateriaal te bekom.

So het die US byvoorbeeld in Februarie vanjaar 'n kwartaandeel in Ram JW150558 bekom, saam met die Vrystaatse Crux Dohnes-stoetery. Die R220 000 wat betaal is vir dié bielie-ram is die meeste tot nou toe by die nasionale veiling - en is dubbel soveel as die prys waarvoor die 2016-topverkoper gegaan het!

Op sy beurt is Mariendahl weer die gereelde bymekaarkomplek van tot 60 studente en aspirant-telers wat een van die twee vernaamste driedaagse werkswinkels,wat deur die Dohne Merino-Telersgenootskap gehou word, bywoon. Vanjaar vind die werkswinkel tussen 7 en 9 Junie plaas.

Die US se 41ste jaarlikse Produksieveiling vind vanjaar op Donderdag 20 Julie by die veilingsarena van die naburige Elsenburg Landbouontwikkelingsinstituut plaas. Daar sal op 60 Dohne Merino-ramme en 20 Suid-Afrikaanse Vleismerino-ramme vanaf Mariendal Proefplaas gebie kan word.

Die veiling vind vanjaar vir die eerste keer op 'n Donderdag plaas, nadat dit vir die afgelope 40 jaar altyd op die tweede Woensdag van Julie sy plek op die BKB-veilingskalender gehad het. 

Bedrywige proefplaas

Die proefplaas lê op 300 hektaar staatsgrond digby Elsenburg Landboukollege, sowat 16 kilometer buite Stellenbosch. Benewens 450 Dohne Merino-ooie en 150 SA Vleismerino-ooie wei hier ook 'n kudde van 55 Simmentalerbeeste, en word daar ook varke en pluimvee aangehou. Op 'n gewone dag is daar tot 125 sôe en 'n duisend groeivarke op die terrein.

Tien voltydse personeel is hier werksaam. Morris is reeds die afgelope 30 jaar plaasbestuurder, nadat hy op 13 Januarie 1987 ingeval het by die destydse Afdeling van Skaap- en Wolkunde van die Department Veekundige Wetenskappe.

Benewens die kommersiële veeboerdery-aspek van die plaas bied dit ook belangrike opleidings- en navorsingsgeleenthede vir navorsers en studente van die US Departement Veekundige Wetenskappe. Voorgraadse studente in Veekunde kom sedert die proefplaas se ontstaansjare in 1974 hierheen, om onder meer vakansiewerk as deel van hul praktiese modules te doen.

Die geriewe word ook gebruik deur navorsers van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, Elsenburg Landboukollege of die Universiteit van Kaapstad.

Die proefplaas is ook 'n toetsstasie vir twee hernieubare energie-projekte deur Matie-ingenieurs, terwyl 'n klein proefplantasie bloekombome van die US Departement Bos- en Houtkunde ook staanplek daarop het.