Skip to main content
Karen Zoid word Borg ʼn Woord se beskermvrou

Karen Zoid word Borg ʼn Woord se beskermvrou

WAT-kantoor / WAT office
08 November 2016

Karen Zoid het pas die beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ʼn Woord-projek geword. "Kom ons sit die skat terug in woordeskat. Borg ʼn Woord!  Myne is Republiek".  So sê Karen Zoid wat vanaf 16 Oktober die beskermvrou van die WAT se Borg ʼn Woord-projek is en reeds Republiek geborg het.  "Ons het Karen gevra om beskermvrou te word omdat sy ikoniese status in die Afrikaanse musiekwêreld geniet en wyd gerespekteer word.  Sy is eenvoudig buitengewoon begaaf en het aanhangers onder alle generasies," sê dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Hierdie immer gewilde sukses van die WAT het ook ʼn nuwe formaat:  Borg ʼn woord vir R100, koop ʼn woord vir R5 000 of skenk R20 000 vir ʼn woord van jou keuse.

As jy ʼn woord borg of koop, kry jy ʼn sertifikaat met jou naam en woord, jy kwalifiseer vir die Sanlamprystrekking vir R25 000 én jy kry gratis toegang vir ses maande of vyf jaar tot die Aanlyn WAT.  As jy R20 000 skenk vir ʼn woord van jou keuse gaan dit gepaard met die belastingvoordele van ʼn skenking en jy ontvang ʼn artikel 18A-sertifikaat. Skenkers kwalifiseer nie vir die prystrekking of die gratis aanlyn toegang tot die WAT nie.

Die volgende woorde is reeds in die Karen Zoid-jaar wat op 14 Oktober begin het vir R5 000 gekoop:  PRONTUIT van kykNET koop prontuit; die argitekfirma SKEP koop skep; Jan Braai koop Braaidag;  Emmarentia Steyn koop lees; dr. Jeanette Kriel koop onverkwiklik; die Hoërskool Garsfontein koop troffel en turkoois en Braam van Niekerk koop droomvrou vir sy vrou vir haar 50ste verjaardag.

Hier is enkele van die interessante woorde wat reeds vir R100 geborg is: Ockert Gouws borg namens sy ongebore babadogtertjie Petronella vir sy vrou die woord mamma; Barry van der Westhuizen van die Sandveld borg ravot en latjiebeen; Myburgh le Roux borg Namakwaland en Gini Keyser borg strooimeisie vir haar twee strooimeisies.

Maandagaand 31 Oktober op Prontuit op kykNET het dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, ʼn opwindende nuwe verwikkeling rondom die koop van ʼn woord  bekend gemaak. Volg dit hier https://www.youtube.com/watch?v=7dZqfr8zxck . Deelnemers wat woorde vir R5 000 koop, het die reg om daardie woord op ʼn wynetiket te laat druk vir die Sluk jou woorde-wynreeks. Wyn SA en die WAT is vennote in die Sluk jou woorde-wynreeks.  Jy kan ook self ʼn definisie vir daardie woord formuleer wat deel van die etiket sal vorm.  Op die agterste etiket verskyn die formele definisie van die WAT vir jou woord.  Skakel dr. Willem Botha by 021 887311 vir volle besonderhede.