Skip to main content
Jordaan vereer vir sy bydrae tot dermatologie

Jordaan vereer vir sy bydrae tot dermatologie

Liezel Engelbrecht
25 Januarie 2017

Toe prof Faffa Jordaan keelvol geraak het vir na-uurse huisbesoeke wat nie dringend was nie, het hy ná drie jaar as algemene praktisyn besluit om in dermatologie te spesialieer. "En ek was nog nie vir 'n oomblik spyt nie," sê hy.

Sy eweknieë het onlangs ook hul waardering vir dié besluit getoon. Hy is deur die Dermatologiese Vereniging van Suid-Afrika (DVSA) vereer met 'n toekenning vir sy lewenslange bydrae. Dit is die eerste keer dat hierdie toekenning gedoen is, en gee erkenning vir volgehoue, toegewyde en onbaatsugtige bydraes aan die dermatologie-gemeenskap in Suid-Afrika. Dié bydraes sluit in navorsing en publikasies, administratiewe insette, dienslewering, opleiding en betrokkenheid by uitreikaksies. Prof Gail Todd van die Universiteit Kaapstad (UK) het ook die toekenning ontvang.

Gedurende sy 30-jaarlange dermatologiese loopbaan was Jordaan 'n eerstespesialis, medeprofessor en hoof van die Afdeling Dermatologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy is ook 'n navorsingswaargewig en het etlike gepubliseerde artikels op sy kerfstok, ondermeer 50 portuurbeoordeelde artikels.

Jordaan het 'n besonderse belangstelling in pediatriese dermatologie, melanome en kutane TB getoon, maar dit is sy werk in die veld van dermatopatologie waarop hy die trotsste is.

Hy verwys na twee baanbreker dermatopatologie-seminare wat hy aangebied het, by UK in 1988 en US in 1990 onderskeidelik, as sy professionele hoogtepunt. Dié seminare is bygewoon deur verteenwoordigers uit beide die dermatologie- asook die patologiegemeenskappe en het lesings van patologiekundiges sowel as aanbiedinge deur die wêreldbekende dermatopatoloeë, Proff JT Headington en DA Whiting van Amerika, ingesluit. Afgevaardiges het ook toegang tot gevalle-studies, skyfies en omvattende notas gehad.

Beide seminare was uniek in hul omvang en is nog nooit weer herhaal in Suid-Afrika nie. "Ek sal geëerd voel as my nalatenskap in die veld van dermatopatologie kan wees," sê Jordaan.

Hoewel hy in 2012 amptelik afgetree het, is hy steeds betrokke by al die missies van die US se Afdeling Dermatologie. Jordaan is 'n ere-konsultant vir die Afdeling Anatomiese Patologie en is ook 'n dermatopatologiese konsultant in die private praktyk. Hy is steeds betrokke by dermatopatologie-seminare in akademiese departemente in Suid-Afrika en is 'n gesiene spreker in dié veld by plaaslike kongresse.

"Die toekenning beteken baie vir my, op 'n persoonlike sowel as op 'n professionele vlak. Ek hoop ek kan iemand inspireer om 'n akademiese loopbaan in dermatologie na te volg," sê hy beskeie.

"Dit was 'n voorreg om dié loopbaan te kon hê. Ek kan eerlikwaar sê dat ek elke dag uitgesien het daarna om werk toe te gaan."