Jonges wys hul navorsingsvaardighede by Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes
Op 25 en 26 Augustus was die Stellenbosse stadsaal 'n miernes van bedrywighede toe 276 leerders van 24 verskillende skole 217 navorsingsprojekte by die Stellenbosch streekskompetisie van Eskom Expo vir Jong Wetenskaplikes uitgestal het. Nege en vyftig projekte het bronsmedaljes, 49 silwer en 30 goud verdien.
Kontantpryse is aan junior en senior leerders geskenk wat die beste navorsingsprojekte in die 27 kategorieë ingeskryf het. Dit is oorwegend befonds deur die Fakulteite AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Ingenieurswese, Wetenskappe en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Sewentien leerders van 13 skole is gekies om hierdie streek in Oktober 2016 by die International Science Fair (ISF) in Boksburg te gaan verteenwoordig.
As die aanbieders van die kompetisie in hierdie streek saam met die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê dr Trevor van Louw, Direkteur die Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde, "ons was baie opgewonde oor die entoesiasme van die jongmense en ook oor die aantal inskrywings van skole wat vanjaar vir die eerste keer deelgeneem het".
EXPO se doel is om 'n bydrae te lewer tot die verbetering van die wetenskaplike, tegniese en navorsingsvaardighede van jongmense. "Aangesien dit aansluit by die doelwitte van die Kurrikulum en asseseringsbeleidsdokument (CAPS) van die Departement van Onderwys, bied dit aan onderwysers die geleentheid EXPO 'n wonderlike geleentheid aan leerders om hul werk objektief te laat beoordeel op 'n vlak hoër as skoolvlak," sê dr Van Louw.
"Ons weet dat leerders wat deelneem aan hierdie kompetisie 'n groot voordeel het omdat dit hul vermoë om krities te dink en uitdagende kwessies op te los, verbeter".
Sowat 80 onderwysers, meestal dosente en nagraadse studente van die verskillende fakulteite aan US, asook 'n paar lede van organisasies soos iTembaLabs en die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die projekte beoordeel.
Me Sophia Turner, van die DWT-NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB), wat een van die beoordelaars was, bevestig dr van Louw se woorde "Expo stel leerders in staat om eerstehandse ondervinding op te doen met die wetenskaplike proses. Hulle leer hoe om selfstandig te dink, hoe om probleme op te los en hoe om met 'n insiggewende en logiese gevolgtrekkings vorendag te kom. Uiteindelik moedig dit hulle ook aan om 'n beroep in die wetenskap te kies. Dit was aangenaam om met die leerders interaksie te hê en te sien hoe entoesiasties hulle oop op die opbouende kritiek geluister het".
Likho Sikutshwa, ook van die SIB, me Noluthando Hlazo, 'n onderwyser van Masibambane Senior Sekondêre Skool en me Sheraine van Wyk van die Whale Coast Conservation in Hermanus wat saam projekte beoordeel heet, stem saam dat dit goed gewerk het om die projekte met mense van verskillende agtergronde te beoordeel. "As ons die punte wat ons elke projek gegee het, het dit duidelik geword dat ons het ons tellings op grond van ons agtergronde en kundigheid gegee het. Dit was lekker om daaroor te kon gesels."
Me Hlazo, tans besig met 'n PhD in Wetenskaponderwys wat fokus op assessering vir leer het gesê: "Ek het baie gedurende die beoordelingsproses geleer en sal beslis die inligting wat ek daar gekry gebruik om my leerders volgende jaar te help met hul projekte. Een van die dinge wat ek geleer het, was egter dat leerders veel vroeër moet begin met hul projekte. Ek het dus begin met 'n wetenskap klub by my skool waar ek leerders aanmoedig om nou al te begin dink aan projekte wat hulle volgende jaar wil doen. Ek is seker ons skool sal volgende jaar die meeste inskrywings by die kompetisie hê. "
Op die foto bo is van links na regs:
Me Likho Sikutshwa, me Sophia Turner, me Sheraine van Wyk en me Noluthando Hlazo.