
IPB verteenwoordig by die Frontiers redakteursberaad
Dr James Lloyd van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) het die 2016 Frontiers se tweede redakteursberaad in Champéry, Switserland, bygewoon. Hy is medebestuurder van die plantbiotegnologie-afdeling van Frontiers in Plant Science, die grootste vryetoegangsvaktydskrif in die wêreld wat in plantbiologie spesialiseer. Frontiers is ʼn gemeenskapsuitgewer en bied verskeie wyd aangehaalde vaktydskrifte op hul Open Science-platform. Die redakteursberaad het meer as 40 Frontiers-redakteurs van oor die wêreld heen byeengebring om hul werk voor te lê en kwessies rakende vryetoegang-uitgewery en die wetenskaplike se rol in die oplossing van huidige globale probleme, met globale volhoubaarheid as die uiteindelike doel, te bespreek. ʼn Opsomming van die uitkomste van die paneelbesprekings is op die Frontier-blog by redakteursberaad gepubliseer. Dr Lloyd het ook ʼn bespreking gegee van sy navorsingswerk oor styselmetabolisme en die potensiële rol van GM-gewasse om stysel binne die plant voor gebruik in die bedryf te wysig.
ʼn Onderhoud is ook met dr Lloyd gevoer oor wetenskap en volhoubaarheid, waartydens sy sienings oor huidige globale kwessies en hoe die bedryf en navorsing kan saamwerk om ʼn volhoubare globale toekoms te bou, opgeneem is. Hy het spesifiek kommentaar gelewer op die toename in die wêreldbevolking, wat sowat 9 biljoen mense teen 2050 sal wees en voedselproduksie op minder grond sal noodsaak. Dr Lloyd het gesê: "Met betrekking tot landboubiotegnologie kan ons gewasse maak wat deur kleinskaalse boere gebruik kan word om hoër oeste voort te bring, en dus aan mense ʼn beter lewe bied terwyl meer kos steeds vir die bevolking as geheel geproduseer word". Die volledige Frontiers-video, wat dr Lloyd's se bydrae insluit, en wat vir die Wêreldsakeraad vir Volhoubare Ontwikkeling geskep is, kan op die Frontier-blog besigtig word.