Skip to main content
Interprofessionele onderwys in Afrika uitgebrei

Interprofessionele onderwys in Afrika uitgebrei

Mandi Barnard
17 Oktober 2016

Daar is ʼn nuweling in die internasionale gemeenskap van Interprofessionele Onderwys (IPO). Die Afrika Interprofessionele Onderwysnetwerk (African Interprofessional Education Network [AfrIPEN]) is formeel aanvaar as ʼn lid van die IPO Wêreld-koördineringskomitee tydens die All Together Better Health VIII kongres wat in September in Oxford in die Verenigde Koninkryk aangebied is.

Die doel met AfrIPEN is om IPO in lande suid van die Sahara te bevorder en om beste praktyk in IPO te bevorder en te deel. Vennote werk saam om IPO-kurrikulums vir die Afrika-konteks te identifiseer, te ontwikkel, aan te pas en te deel.

ʼn Kernbevoegdheid van IPO is samewerkende leierskap. "Dit is belangrik dat onderwys vir gesondheidspraktisyns hervorm word. Ons kan nie voortgaan om ʼn uitgediende biomediese benadering te volg waar verskillende gesondheidsberoepe in silo's werk nie. Ons moet ʼn groot paradigmaskuif maak in die rigting van ʼn interprofessionele persoongesentreerde model met ʼn bio-psigo-sosiale-spirituele benadering," sê dr Stefanus Snyman.

Snyman is die bestuurder van die Interprofessionele Onderwys en Samewerkingspraktyk-inisiatief in die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). "Ons moet IPO-waardes identifiseer en bevorder sodat spanwerk binne multidissiplinêre omgewings meegebring word. Die US word gereken as een van die leiers op die gebied van IPO in Afrika. Ons ondersoek tans hoe opleidingsmateriaal wat binne die Afrika-konteks toegepas kan word, ontwikkel en gedeel kan word," verduidelik Snyman. "IPO en gemeenskapsgebaseerde onderwys is nuwe begrippe en daar is nie beleide hieroor nie."

Snyman, ʼn spesialis in konsensus-gebaseerde vennootskapsontwikkeling en -fasilitering, het ʼn beduidende rol in die stigting van AfrIPEN gespeel. "Ek het oor ʼn tydperk van vier jaar fasiliteringsprosesse hanteer, ondersoeke gedoen en verhoudings gebou met IPO-vennote in Afrika," sê Snyman. "Toe ons in Junie 2015 tydens die Towards Unity for Health-kongres in Johannesburg besluit het om AfrIPEN te stig, was ons ʼn familie bestaande uit 57 IPO-kenners van 10 lande."

Snyman is gevra om AfrIPEN by die kongres in Oxford bekend te stel, waar die vennootskapsontwikkelingprojek baie aandag getrek het. "Die internasionale netwerke is nie bekend met die begrip van verhoudingsbou tussen vennootskapsinstellings nie. Hulle gaan anders te werk, met meer van ʼn korporatiewe bestuurstyl," sê Snyman.