Skip to main content
Internasionale vaktydskrif wy hele volume aan navorsing deur Afrikavakkundiges

Internasionale vaktydskrif wy hele volume aan navorsing deur Afrikavakkundiges

Lynne Rippenaar-Moses
16 Augustus 2017

'n Ganse volume van die Taiwan Journal of Democracy, wat internasionaal hoog aangeskryf staan en ook by die Suid-Afrikaanse Departement van Hoër Onderwys en Opleiding geakkrediteer is, is onlangs aan die bevordering van Afrikavakkundiges se werk gewy. Alle artikels in volume 13 (2017) van die tydskrif kom uit die pen van lede van die Eenheid vir Transformasienavorsing (TRU), wat by die Universiteit Stellenbosch (US) gebaseer is.

TRU, wat in die Departement Politieke Wetenskap van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe geleë is, konsentreer daarop om Suid-Afrika uit 'n politieke, ekonomiese en maatskaplike oogpunt met ander demokrasieë in die streek en die wêreld te vergelyk.  

“Dit is 'n reuseprestasie, want nie net kom ál die bydraers van Afrika nie, maar hulle is ook almal lede van TRU, en ál hulle bydraes handel oor Suid-Afrika in Suider-Afrikaanse verband. Dit gebeur nie dikwels dat 'n gerekende internasionale vaktydskrif sy hele uitgawe uitsluitlik aan hierdie deel van die wêreld wy nie. Baie interessante ontledings en nuwe datagegronde hipoteses word in die tydskrif aangebied, sowel as insigte oor die impak van die geskiedenis op hedendaagse Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe en Botswana. Kortom, dis die lees werd en kan vir baie mense interessant wees," sê prof Ursula van Beek, die hoof van TRU.

Die tydskrif self is “gewy aan die studie van demokratiese politiek oor die algemeen, en demokratiese ontwikkeling in Taiwan en ander Asiese demokrasieë in die besonder", en verskyn halfjaarliks.

Die versameling bydraes in die tydskrif is die hoogtepunt van 'n twee jaar lange navorsingsprojek waaraan akademici van ál vier Suider-Afrikaanse lande deelgeneem het. Die artikels verken verskeie onderwerpe, onder meer die gemeenskaplike kenmerke van drie van die bestudeerde regerings wat uit voormalige bevrydingsbewegings ontstaan het, in teenstelling met die regering in Botswana, wat 'n ander historiese roete gevolg het.

“Die artikels oordink ook die gevolge van swak staatsbestuur vir sosio-ekonomiese ontwikkeling, spoor sosiopolitieke veranderinge oor tyd na, bespreek politieke kultuur, roer die impak van godsdiens en kultuur aan, dink na oor die probleem van xenofobie, en besin oor die uitvoerende gesag se beheer oor staatsgeld. Gesamentlik vestig dit die plaaslike en internasionale leser se aandag op die spesifieke probleme waarmee demokrasie aan die suidelike punt van die Afrikavasteland te kampe het," verduidelik Van Beek.

Om na ál die artikels in die tydskrif te kyk, gaan na: http://www.tfd.org.tw/opencms/english/publication/journal/data/Journal0026.html.

FOTO: 'n Foto van die TRU-Suider-Afrika-groep in November 2015, toe die eerste weergawes van die artikels die eerste keer bespreek is. Buiten dr Krige Siebert (van die US se Departement Ekonomie), sluit die foto alle bydraers in wie se artikels in die tydskrif verskyn. Voor, van links na regs, is dr Catherine Musuva (AU, bydraer), me Terushka Naidoo (US, voormalige honneursstudent), prof Henning Melber (die Nordiese Afrika-instituut, Uppsala, Swede, en bydraer oor Namibië), me Lovelyn Nwadeyi (voormalige PhD-kandidaat aan die US), prof Ursula van Beek (US, bydraer), dr Cindy Steenekamp (US, bydraer) en dr Nicola de Jager (US, bydraer). Agter, van links na regs, is mnr Barend Lutz (voormalige PhD-kandidaat aan die US), prof Hennie Kotzé (US, bydraer), mnr George Ott (US, bydraer), prof David Sebudubudu (Universiteit van Botswana, bydraer), prof Stan du Plessis (US), prof Lloyd Sachikonye (Universiteit van Zimbabwe, bydraer), me Helen Kroes (MA-student aan die US) en dr Marisa von Fintel (US, bydraer).