
Internasionale Oop Toegang Week 2016
Internasionale Oop Toegang week word vanjaar wêreldwyd gevier vanaf 24 – 30 Oktober met die tema “Open in action”. Die Biblioteek- en Inligtingsdiens wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die aandag te vestig op sy eie oop toegangsinisiatiewe wat oor die afgelope paar jaar beduidend uitgebrei het.
Die Biblioteek- en Inligtingsdiens se vernaamste oop toegangsinisiatiewe op hierdie stadium sluit die volgende in: SUNScholar, ‘n institusionele bewaarplek vir navorsingsuitsette, SUNDigital Collections, ‘n bewaringsplatform vir unieke digitale versamelings, SUNJournals, ‘n joernaal huisvestingsplatform en SUNConferences, ‘n platform vir die huisvesting van konferensies. Die biblioteek bestuur ook ‘n ooptoegangspublikasiefonds wat gestig is met die doel om US navorsers wat in oop toegang tydskrifte publiseer te ondersteun. Tussen 2009 en 2015 is die outeursfooie van 362 artikels met ‘n totale waarde van R4,3 miljoen befonds.
Een van die hoogtepunte vanjaar was SUNScholar wat die eerste posisie in Afrika behaal het volgens die Julie 2016 uitgawe van die wêreld ranglys van oop toegang navorsingsbewaarplekke bepaal deur “Ranking Web of World Repositories”. Die gebruik van SUNScholar neem ook voortdurend toe met ongeveer 104 000 tesisse, proefskrifte en artikels wat in 2013 afgelaai is tot ‘n geprojekteerde 142 000 vanjaar. Volgens gebruikstatistiek kom ses uit tien van die mees gewilde items voor op die gebied van Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.
SUNDigital Collections het ook aansienlike groei getoon met 4293 items in 2014 na ‘n totaal van 6978 items vandag. Nuwe aanwinste om na uit te sien is die Frederik van Zyl Slabbert versameling wat tans gedigitaliseer word en die Beyers Naudé versameling van preke wat eersdaags opgelaai sal word.
SUNJournals verwelkom vanjaar drie nuwe tydskrifte op die platform naamlik South African Journal of Higher Education, African Journal of Nephrology en South African Journal of Enology and Viticulture. Die 21 joernale wat tans gehuisves word, word van heinde en verre bereik, soos byvoorbeeld Social Work/Maatskaplike Werk wat 3626 besoeke in die afgelope maand ontvang het, meeste vanuit Suid-Afrika. Ander joernale wat duisende besoeke per maand ontvang sluit bv. in African Population Studies, met groot getalle lesers in Afrikalande soos Kenya and Nigerië, en South African Journal of Industrial Engineering, wat baie vanuit Indië gebruik word.
Tydens Internasionale Oop Toegang week bied die biblioteek ‘n aanbieding getiteld “Evaluating research output, impact, collaborations and trends in Open Access” deur Melissa Badenhorst van World Wide Information Services aan op 28 Oktober (besoek gerus die kalender vir meer inligting en registrasie). Die biblioteek sal ook die aandag fokus op sy nuwe Open Access blog, wat inligting en statistiek rondom sy oop toegangsinisiatiewe bied, sowel as algemene inligting rondom oop toegang.
Navrae: Mimi Seyffert-Wirth