
Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe vier vyf jaar se suksesse
Die ontwikkeling van Suid-Afrika se eerste prototipe wingerdrobot. 'n Sensoriese fasiliteit waar die aroma en mondgevoel van wyne deur kundige panele proe-proe bepaal word. Die befondsing van 'n voltydse koördineerder vir 'n ses maande internskapsprogram vir wingerd- en wynkundestudente, 'n webwerf, 'n eie koerant, asook die ondersteuning van inligtingsdae om wetenswaardighede aan die wyn- en wingerdbedryf oor te dra.
Dís van die suksesverhale wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe (IWWW) sedert 2013 kon befonds ter bevordering van die bedryf. Dit word moontlik gemaak danksy die finansiële ondersteuning van die Reinet Stigting, VinPro en Sanlam.
Die IWWW se vyfjarige bestaan is gevier by 'n funksie wat van die belangrikste rolspelers in die wyn- en wingerdbedryf ingesluit het. Dit is op sakeman en US-kanselier dr Johann Rupert se L'Ormarins wynlandgoed gehou.
Tydens die geleentheid het beide die voorsitter van die IWWW-raad, dr Marius Lambrechts van Distell en die waarnemende dekaan van die US se Fakulteit AgriWetenskappe, prof Danie Brink, beklemtoon hoe belangrik die industrie se befondsing, advies en ondersteuning vir die werksaamhede van die IWWW en vennote soos die US is.
"Die manier waarop die IWWW met die bedryf skakel en saamwerk het 'n model geword vir die Fakulteit AgriWetenskappe én die Universiteit Stellenbosch in die breë oor hoe om innovasie en samewerking aan te pak," het prof Brink bygevoeg.
Dr Rupert se bekommernisse oor die wynindustrie
Die gasheer van die aand, dr Johann Rupert, was saam met ander industrieleiers een van die groot dryfvere agter die IWWW se aanvanklike totstandkoming. Dr Rupert het onder meer sterk kommer uitgespreek oor die bemarking van Suid-Afrikaanse wyne in die buiteland en die volhoubaarheid van die plaaslike wynbedryf te midde van uitdagings soos klimaatsverandering, droogtes, politieke veranderinge, die voortslepende voorkoms van rolblaarvirus en verbruikers se toenemende voorkeur vir wyne met laer alkoholvlakke.
Hy het sy voortgesette ondersteuning van die IWWW se bedrywighede herbevestig en akademici uitgedaag om innoverend en toonaangewend om te gaan met kwessies wat die bedryf kan kniehalter.
"Ons het julle nodig om relevante werk te doen wat ons (as produsente) kan help om in alles wat ons doen wyn eties te produseer – vanaf die wingerde tot by ons kelderpraktyke," was sy uitdaging.
Uitruil van kennis
'n Belangrike aspek van die IWWW se werksaamhede is juis die oordrag van navorsingsbevindinge en inligting oor die beste moontlike praktyke aan wynmakers, wingerdkundiges, produsente, bemarkers en die media – van droogtehulp en waterbestuur tot die beste snoeimetodes. In die proses het die IWWW-webwerf (www.igws.co.za) al 'n behoorlike virtuele handboek én nuusbron vir die bedryf geword. Die ondersteuning van bestaande industrie-inligtingsdae, 'n gereelde koerant, maandelikse nuusbriewe per epos, boeke en inligtingstukke word ook gebruik om met bedryfslede te skakel.
Ekstra hande vir navorsing
Die Instituut befonds nie self navorsingsprojekte direk nie, maar wel die infrastruktuur wat dit moontlik maak. Dit sluit onder meer die aankoop van toerusting en die uitbreiding van geriewe by die US Departement Wingerd- en Wynkunde (DWW) in. Die IWWW befonds ook die uitbreiding van menslike hulpbronne om navorsingsinisiatiewe te versterk. So is sewentien ekstra personeellede reeds sedert 2013 aan die US aangestel.
Hierdie geriewe en ekstra hande maak dit vir US-navorsers moontlik om onder meer verskillende tegnologië te ontwikkel en uit te toets, soos die gebruik van hommeltuie ('drones') en draagbare sensors. Hulle doen ook toetse oor die invloed van suurstof, temperatuur en gis op veral witwyne, bekyk aspekte rondom wynbemarking, hoe mense wyne ervaar en druifplante se reaksie op omgewingsveranderings, veral met die oog op klimaatsveranderings.
Sensoriese proefasiliteit
Danksy ondersteuning van Sanlam kon die IWWW ook 'n gevorderde sensoriese proefasiliteit by die DWW befonds. Met die hulp van opgeleide proepaneellede kan navorsers en wynmakers nou die sensoriese kwaliteit (dus onder meer die mondgevoel, aroma en geur) van hul wyne laat beskryf en bepaal. Tans word veral op Chenin blanc- en Sauvignon blanc- wyne gefokus.
So is die sensoriese analise van die tien beste wyne in die 2016 Standard Bank Chenin blanc-kompetisie onlangs voltooi, om die profiele van wenwyne vir die bedryf te demonstreer. Soortgelyke analises is ook vir die FNB Top 10 Sauvignon blanc-wyne en die Top 12 Shiraz Challenge-wyne gedoen.
Dassie wingerrobot-prototipe
Tydens die funksie kon gaste ook die IWWW-wingerdplatform se vlagskipprojek, die Dassie-wingerdrobot, bekyk. Die prototipe-robot dra onder meer verskillende soorte sensors wat die voginhoud, temperature en ander strestoestande van 'n ry wingerdstokke toets en die suikerinhoud en rypheid van trosse bepaal. Die US het in 2016 die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingraad (WNNR) gekontrakteer om die basiese meganika en sensors volgens spesifikasies te bou. IWWW-personeel en assosiate toets dit nou en ondersoek verdere ontwikkeling- en toepassingsmoontlikhede. Daar word tans ook met die US se LaunchLab saamgewerk om die prototipe weldra te kommersialiseer.
"Die wingerdrobot word ontwikkel om outonoom in 'n wingerd te navigeer en om met behulp van kameras, sensors en sagteware intydse en hoë resolusie inligting oor 'n wingerd, deel van 'n wingerd, geselekteerde stokke of selfs net 'n spesifieke druiftros te versamel," het prof Melané Vivier van die DWW verduidelik.
Volgens Berno Greyling, 'n meganiese ingenieur in die IWWW-span, staan die US tans aan die spits van inisiatiewe wêreldwyd om die gebruik van robotika in wingerde 'n werklikheid te maak. Sulke toestelle het 'n voordeel bo byvoorbeeld hommeltuie deurdat opnames ook onder die blaredak van 'n wingerd gemaak kan word, en dat die gebruik daarvan nie deur wetgewing beperk word nie.
Die mobiele sensors wat vir die Dassie ontwikkel word, behoort ewe goed op 'n robot as op 'n hommeltuig of selfs agterop 'n vierwielmotorfiets gebruik te kan word.
"Die werk wat met die Dassie gedoen word strek veel wyer as net die wyn- en wingerdbedryf, want ander landbousektore sal beslis ook die tegnologie wat ons ontwikkel kan gebruik," het prof Vivier in haar oorsig oor die IWWW se werksaamhede gesê.
Vir haar is die Dassie 'n sprekende voorbeeld van hoe die IWWW help dat akademici aan die US en elders vernuwend oor hul werksaamhede en skakeling met die industrie kan dink.
"Verteenwoordigers uit die bedryf is van meet af reeds deel van ons fokusgroepe en lewer gereelde insette oor die industrie se behoeftes," het sy vertel.
'n Sentrum vir innovasie is volgende op die US-akademici se wenslysie. Prof Vivier sê dit sal bydra tot die uitruil van kennis met die industrie, en sal help om nuwe tegnologieë te kommersialiseer wat tans danksy IWWW-ondersteuning ontwikkel word.
Agtergrond oor die Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe (IWWW):
- Die IWWW is in 2013 gestig danksy befondsing van die Reinet Stigting, VinPro en Sanlam.
- Dis 'n gesamentlike inisiatief tussen die Universiteit Stellenbosch en Suid-Afrika se wyn- en wingerdbedrywe. In die volgende fase van die Instituut se bestaan word beplan om die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie, die Landbounavorsingsraad en Elsenburg ook by inisiatiewe te betrek.
- Die IWWW bestaan uit verskillende arms:
- Die wingerdkunde platform onder leiding van prof Melané Vivier.
- Die wynkunde platform onder leiding van prof Wessel du Toit.
- Die analitiese platform onder leiding van prof António Ferreira
- Die sensoriese platform onder leiding van me Jeanne Brand
- Verskillende tegnologie-oordrag platforms vir wynkunde en wingerdkunde.
- 'n Wye reeks inligtingsbronne is op die IWWW-webblad (www.igws.co.za) beskikbaar en is deur industriekenners en akademici saamgestel. Dit vat die jongste navorsing en beste praktyke vas oor onder meer die beheer en bestuur van rolblaarvirus, meganiese snoei- en oesmetodes, aspekte rondom die aroma van Sauvignon blanc-wyne, hoe om rookskade in wingerde teen te werk en wingerde in droogtetye ten beste te bestuur.
- Bykomende inligtingsbronne:
- Die 2015 IWWW-jaarverslag
- www.igws.co.za of www.facebook.com/igws.rsa Media-navrae
Ronel Sperling Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskappe [email protected] 021 808 9602 | 082 855 6599