
Innoverende navorsing oor obsessief-kompulsiewe steuring moontlik gemaak
ʼn Navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) gebruik ʼn navorsingstoekenning om ʼn nuwe behandelingsmetode te ondersoek wat hopelik sal help om die simptome van obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) beter te beheer.
Prof Christine Lochner, van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het onlangs die Navorsingstoekenning vir Gevestigde Navorsers ontvang van die Biologiese Psigiatrie Spesiale Belangegroep van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters. Dit stel haar in staat om innoverende navorsing oor OKS te doen.
"OKS is ʼn inperkende toestand wat ʼn geweldige negatiewe uitwerking op mense se lewenskwaliteit het. Dit het ʼn voorkomssyfer van twee tot drie persent en slegs sowat die helfte van mense wat hierdie psigiatriese siekte het, reageer goed op behandeling," verduidelik Lochner.
Met die betrokke studie ondersoek Lochner en haar span die impak van ʼn nuwe behandelingsmetode vir mense met OKS. Hulle gebruik daaglikse kognitiewe opleiding, oor ʼn tydperk van agt weke, deur ʼn selfoontoepassing, of App, soos wat oor die algemeen na hierdie programme verwys word.
Die App, genaamd die "C-ya – Curb your addiction and say C-ya to your habits" is ontwikkel deur dr Samantha Brooks, ʼn wetenskaplike by die Universiteit Kaapstad (UK) en medenavorser. Die projek word aangepak onder die vaandel van die US/UK Mediese Navorsingsraad se eenheid vir stres- en angssteurings.
Die doel is om vas te stel of die App se verwagte invloed op mense se werksgeheue kan lei tot verbeterde beheer oor die simptome van OKS. As daar bewys kan word dat dit doeltreffend is, sal dit ʼn bekostigbare ingryping wees wat tot voordeel kan strek van mense wat nie duur kognitiewe gedragsterapie kan bekostig nie en wat nie toegang het tot die spesialisbehandeling wat OKS verg nie. "Die App sal dan òf in isolasie òf bykomend tot spesialisbehandeling gebruik kan word," sê Lochner.
Daar word vooraf ʼn volledige diagnostiese en kliniese onderhoud met deelnemers gevoer, en ʼn reeks neurosielkundige toetse afgelê om hulle huidige vlak van funksionering en inperking te bepaal. Daar word ook strukturele en funksionele magnetiese resonansie-beelding gedoen. Al hierdie prosedures word na afloop van die agt weke herhaal, om te sien of daar enige verandering was weens die kognitiewe opleiding.
"Juis daarom is ek so in my skik met hierdie toekenning. Nie net is dit erkenning van en ʼn beloning vir die werk wat ons oor OKS doen nie, maar dit het ons ook in staat gestel om voort te gaan met ʼn belowende projek. Daar was baie verdienstelike kandidate vir hierdie toekenning, maar om die studie te kan voortsit het ons die geld broodnodig gehad," sê Lochner.
"Hierdie projek stel ons daartoe in staat om ʼn magdom data te genereer oor die werking van die brein van mense wat aan OKS ly," sê Lochner. "Ons glo dat ons hiermee ʼn daadwerklike bydrae sal kan lewer tot die bestaande kennis oor die werking van die brein, en die behandeling en lewensgehalte van mense met OKS."