Skip to main content
Hoofdirekteur: Maties Sport verkies tot SA Rugby se uitvoerende raad

Hoofdirekteur: Maties Sport verkies tot SA Rugby se uitvoerende raad

Maties Sport: Media
01 Junie 2016

​Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur: Maties Sport, sien uit na die uitdaging om die eerste vrouelid van SA Rugby se uitvoerende raad te wees.

SA Rugby het Woensdag 1 Junie aangekondig dat Groenewald en Monde Tabata verlede week as raadslede verkies is.

'n Persverklaring deur SA Rugby noem dat Groenewald vir Mputumi Damani as een van twee onafhanklike lede van die raad, wat bestaan uit 12 lede, opvolg.

"My passie is sportbestuur en -ontwikkeling en toe hulle my gevra het of ek sou instem om my naam in die hoed te gooi, het ek glad nie gehuiwer nie," het sy gesê.

"Jy kan nie in sportadministrasie in die Wes-Kaap werk en nie iets oor rugby weet nie en daarom het ek 'n baie goeie insig in die werk wat SA Rugby doen. Ek het ook positiewe ondersteuning van die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang."

Groenewald het in 2014 by die US aangesluit van UWK af waar sy die pos as direkteur van sportadministrasie vir meer as 'n dekade beklee het. Sy het 'n graad in besigheidsadministrasie en 'n meestersgraad in sportbestuur.​

"Ek glo ek het 'n goeie begrip van sport op voetsoolvlak in ons land en die uitdagings waardeur ons jong atlete in die gesig gestaar word. Ek hoop dat daardie tipe agtergrond – asook my ervaring in sportbestuur – vir die uitvoerende raad van waarde sal wees."

Lees die volledige persverklaring hier.