Skip to main content
HonsBRek-studente behaal beste slaagsyfer in Aanvanklike Toets van Vaardigheid

HonsBRek-studente behaal beste slaagsyfer in Aanvanklike Toets van Vaardigheid

Pia Nänny
28 Maart 2016

Die Skool vir Rekeningkunde is in sy noppies met die slaagsyfer van 94% wat die HonsBRek-studente van 2015 in die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se eerste professionele eksamen (oftewel die Initial Test of Competence (ITC)) behaal het.

Dit is die eerste van twee eksamens wat deur die SAIGR afgeneem word en wat persone wat as geoktrooieerde rekenmeesters (Suid-Afrika) wil kwalifiseer, suksesvol moet aflê. Die studente het die eksamen in Januarie vanjaar geskryf.

Die SAIGR en die Institute of Chartered Accountants of Namibia het onlangs bekendgemaak dat die US die beste slaagsyfer landswyd onder die SAIGR geakkrediteerde universiteite behaal het vir studente wat hierdie eksamen vir die eerste keer afgelê het.

Die Universiteit van Pretoria het 'n slaagkoers van 92% behaal, die Universiteit van Kaapstad 83%, die Universiteit van Johannesburg ook 83% en die Universiteit van die Witwatersrand 74%. Die gemiddelde slaagsyfer was 80%.

Die US se Matthys Lourens het die tiende plek landswyd behaal.

Prof Pieter von Wielligh, professor in ouditkunde en medekoördineerder van die BRek- en HonsBRek-programme, het verduidelik dat die eksamen landswyd deur 2561 kandidate afgelê is, waarvan 2318 eerste pogings was (d.w.s. studente wat in 2015 hul nagraadse kwalifikasie verwerf het om te kwalifiseer om die eksamen te kon aflê).

"Altesame 163 van die US se HonsBRek-studente van 2015 het die eksamen afgelê, waarvan 153 dit geslaag het."

Die US het ook in 2009 die beste slaagsyfer behaal toe die Skool vir Rekeningkunde se oudstudente van 2008 'n slaagsyfer van 99% behaal het. 

Die US is tans een van 14 universiteite in Suid-Afrika wat deur die SAIGR geakkrediteer word om voornemende geoktrooieerde rekenmeesters op te lei.

"Gegewe die reeks opsies wat voornemende geoktrooieerde rekenmeesters het, is reputasie van kardinale belang om goeie studente en ook goeie dosente te trek," sê prof Von Wielligh.

"Die uitstekende prestasie van ons HonsBRek-studente van 2015 in die ITC onderstreep op ʼn baie konkrete en sigbare wyse die gehalte van die onderrig wat die Skool verskaf, maar natuurlik ook die gehalte van die studente wat die Skool trek."

Volgens prof Von Wielligh volg die Skool 'n sterk student-gesentreerde onderrigfilosofie.

"Ons streef daarna om hoëgehalte-onderrig in ʼn produktiewe omgewing aan ons studente te bied. Ons stel ons ten doel om onafhanklike en konstruktief kritiese denke by studente aan te moedig en die beginsel van lewenslange leer, wat van kritieke belang is in die snelveranderende wêreld van die professionele rekenmeester, by studente te kweek. Hiermee saam plaas ons ʼn hoë premie op die aanleer van etiese beginsels en baie ander professionele vaardighede. Die Skool bied ook uit eie geledere verskeie vorme van hulp aan studente wat op akademiese gebied sukkel, benewens dit wat die Fakulteit en Universiteit reeds bied.

"Ons span topgehalte, topgekwalifiseerde dosente is kenners op hul vakgebiede en word voortdurend aangemoedig om verdere navorsing te doen."

Die Skool vir Rekeningkunde is baie trots op die honneursklas van 2015 se uitstekende prestasie.

"Hulle harde werk en deursettingsvermoë, en ook die vertroue wat hulle in ons as dosente stel, is bewonderenswaardig. Dit is nog te meer so as ons onthou dat 2015 ʼn ontwrigtende jaar was met onder meer die brand in die Van der Sterr-gebou, waar die klaslokaal van die HonsBRek-studente en die kantore van die dosente wat vir hulle klasgee, gehuisves was, en die protesaksie aan die einde van 2015."

Volgens prof Von Wielligh stel die aanbied en koördinering van die BRek- en HonsBRek-programme hoë eise aan dosente. "Dit verg onder andere volgehoue vernuwing, deeglike beplanning, goeie kommunikasie, deurlopende monitering en ingeligte besluitneming."

Prof Stan du Plessis, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die Skool gelukgewens met hierdie besondere prestasie.

"Hartlik geluk met hierdie uitstekende prestasie en opregte dank vir die harde, doelgerigte en intelligente werk wat daaragter lê."