Skip to main content
Hennie Aucamp-muurpaneel by WAT bekendgestel

Hennie Aucamp-muurpaneel by WAT bekendgestel

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
26 April 2016

​(English to follow soon)

Die Hennie Aucamp-muurpaneel, ontwerp deur Jenny Frost, is Vrydag 22 April by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se kantore in Stellenbosch bekendgestel. Die fokuspunt van die muurpaneel is 'n skets van Aucamp deur Alex Emsley. 

Hennie Aucamp het bekendheid verwerf as akademikus, dramaturg, kabaret- en kortverhaalskrywer, en digter. Hy is op 20 Januarie 1934 in Dordrecht in die Oos-Kaap gebore en het  op die plaas Rust-mijn-ziel in die distrik Jamestown grootgeword. Hy het aan die universiteite van Stellenbosch, Leuven (België) en Colombia (New York) studeer. Hy het die kwalifikasies BA, SOD, MA en DEd behaal. Hy was dertig jaar lank verbonde aan die Fakulteit van Opvoedkunde aan die Universiteit van Stellenbosch, tot met sy uittrede in 1994. 

Die ander materiaal wat in die uitstalling gebruik is, hou meestal verband met Aucamp se besondere verhouding met die WAT. Dit sluit foto's van hom in  toe hy in 2013 saam met TT Cloete en Adam Small 'n eregas was by die bekendstelling van Deel XIII van die WAT. Hy het ook van sy persoonlike dagboeke en aantekeninge aan die WAT geskenk.

Dr Willem Botha, redakteur van die WAT sê Aucamp is 'n jare lange vriend van die WAT en het onder andere 'n gedig oor die WAT geskry by die verskyning van Deel XII.  "Ons het ook 'n ruim bydrae uit sy erflating ontvang verlede jaar.  Dan is daar ook sulke juweeltjies soos die volgende wat hy in toesprake gebruik het: 'Waaraan ken jy 'n jintelman? Hy koop die beste Ierse whiskey en sy WAT-stel is in leer gebind'."

Volgens Botha sal die mense by die WAT Aucamp onthou as iemand  wat Afrikaans "op 'n wonderlik suiwer en tegelyk skeppende wyse gebruik het".  "Hy het oor 'n woordeskat beskik waarvan ons ander maar net kan droom. Hy kon onder andere baie fyn onderskei tussen woorde wat eintlik sinonieme is, hy het die fyn nuanseverskille tussen woorde geken. Ook woorde wat nie meer algemeen in gebruik is in hedendaagse Afrikaans nie. Hy was ongewoon veelsydig en het ook die eerste Afrikaanse kabarette geskryf. 

"Hy was 'n ware vriend van die WAT en 'n gewer vir vriend en vyand (as hy enige gehad het)," sê Botha.

Prof. Lina Spies, 'n jarelange vriendin van Aucamp het 'n kort huldeblyk aan hom gelewer. Sy het hom beskryf as romantikus en 'n dekadent, "met 'n hoofletter 'D'" – enersyds weens sy ontevredenheid met die status quo en sy behoefte om die werklikeheid te transendeer en andersyds omdat hy die artifisiële as alternatief tot die werklikheid beleef het.

Sy het ook verwys na die ooreenkomste wat Aucamp gevind het tussen Prediker 12 se "alles kom tot niks, tot niks" en Skoppensboer se woorde "gewis is alles net 'n grap" – 'n eggo van mekaar dat alles tevergeefs is.

Mr Cat and The Jackal het die gehoor vermaak met uittreksels uit die US Woordfees-produksie van Hennie Aucamp se kabaret Slegs vir Almal

Gaste kon ook van die wyne van die wynreeks Sluk jou woorde kan drink.  Sluk jou woorde is 'n vennootskap tussen Wyn SA, Koelenhof Kelder en die WAT.  Die WAT se logo saam met 'n definisie van die wyn se naam, bv. Rinkink, Loslyf en Oorbly verskyn op die etiket.

*Die WAT word gehuisves deur die Universiteit Stellenbosch.

Op die foto van links is dr. Willem Botha (hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT), Rina (Aucamp se suster), prof. Spies en Mari Naude (dogter van Rina). Fotograaf: Anton Jordaan.