
Gesamentlike verklaring deur US-Bestuur en senior onderwyskundiges
Gesamentlike verklaring deur die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch en senior onderwyskundiges
Senior onderwyskundiges en die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan teen die agtergrond van die nuwe Taalbeleid in die Wes-Kaapse onderwyssektor ruimtes skep vir gesprekvoering oor akademiese sukses vir spesifiek Afrikaanssprekende studente uit histories-benadeelde omgewings in 'n meertalige hoëronderwysinstelling.
Die Bestuur van die US en onderwyskundiges het ontmoet om die nuwe Taalbeleid wat in 2017 in werking tree, te bespreek. Teen hierdie agtergrond word die volgende gesamentlike verklaring uitgereik:
Die US-bestuur en onderwyskundiges sal in 'n vennootskap van wedersydse vertroue en samewerking ruimtes skep om onder meer studentesukses in 'n konteks van meertaligheid vir 'n diversiteit van studente, spesifiek ook vir Afrikaanssprekende studente uit histories benadeelde kontekste, te bespreek.
Die US en onderwyskundiges is gesamentlik verbind tot die verwesenliking van die strategiese strewe van die US soos verwoord in die US se Institusionele Voorneme en Strategie, naamlik toegang en sukses, uitnemendheid deur diversiteit, inklusiwiteit, toekomsgerigtheid en innovasie.
Voorts word die US se strewe na meertaligheid in die multitalige Suid-Afrikaanse samelewing ondersteun.
Tydens die bespreking het die groep die Taalbeleid se strewe bevestig: om gelykwaardige studentesukses te verseker vir 'n diversiteit van studente, spesifiek ook vir Afrikaanssprekende studente van sosio-ekonomies benadeelde kontekste. Hierdie studente behoort dus 'n gelykwaardige kans gegun te word om suksesvol aan die US te kan studeer.
Ontmoetings word beplan met verskeie groepe skoolhoofde met 'n beduidende aantal Afrikaanssprekende leerders om die nuwe Taalbeleid te bespreek en toe te lig, en om enige onduidelikhede of verkeerde persepsies uit die weg te ruim.
Van die vrae wat bespreek sal word tydens die beplande ontmoetings is die volgende:
- Is daar inderdaad 'n gelykwaardige kans op sukses vir Afrikaanssprekende studente uit sosio-ekonomies benadeelde omgewings?
- Watter moniteringsmeganismes word in plek gestel om te verseker dat sodanige gelykwaardige kans op sukses in die praktyk werklikheid word?
- Wat word gedoen om te verseker dat Afrikaans se status as volle wetenskapstaal in 'n meertalige konteks gehandhaaf word?
- Wat word gedoen om die ontwikkeling van isiXhosa in 'n veeltalige konteks te ondersteun?
Die onderwyskundiges in die samewerkingsvennootskap beklemtoon dat hulle nie namens 'n Kans in Afrikaans aan hierdie belangrike proses met die US-bestuur deelneem nie.
Uitgereik namens:
Prof Wim de Villiers: Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch ([email protected])
Mnr Danie van Wyk: namens onderwyskundiges ([email protected])