
Geen-toets bepaal of pasiënte met borskanker chemoterapie benodig
Ongeveer die helfte van alle vroue met vroeëstadium-borskanker ondergaan dalk onnodig chemoterapie.
Dit is volgens nuwe navorsing wat onlangs in die New England Journal of Medicine gepubliseer is. Die navorsing het getoon dat 46% van vroeëstadium-borskankergevalle wat met 'n hoë risiko vir terugkeer geklassifiseer is deur die gebruiklike evalueringsmetode, inderwaarheid 'n lae risiko vir terugkeer gehad het nadat dit met 'n genetiese metode, genaamd die MammaPrint, getoets is. Pasiënte met 'n hoë risiko vir terugkeer moet chemoterapie ontvang.
Hierdie uitslae is afkomstig van 'n groot internasionale studie genaamd die MINDACT-studie en bevestig die uitslae van 'n 2013-studie deur navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat gevind het dat dit veilig is vir diegene met 'n lae-risiko profiel om chemoterapie te vermy.
"Ons bevindings is bevesting deur die MINDACT-studie en ons kan nou met vertroue sê dat dit belangrik is vir onkoloë om hierdie 70-geen toets te oorweeg met die ontwerp van pasiënte se behandelingsplanne," sê Maritha Kotze, 'n professor in genetika by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste by die Tygerberg-hospitaal.
Die afsien van chemoterapie verminder nie net aansieklik die koste van behandeling nie (chemoterapie kos meer as R100 000), maar pasiënte vermy ook die newe-effekte daarvan as hulle dit nie benodig vir hul kankerbehandeling nie.
"Chemoterapie red die lewens van mense wat dit nodig het, maar dit veroorsaak naarheid, haarverlies en het baie ander komplikasies, dus moet pasiënte dit nie onnodig ontvang nie," sê dr Kathy Grant, die hoofouteur van die 2013 MammaPrint-studie deur die US.
Die MINDACT-studie het die risiko vir terugkeer bestudeer in 6693 vroue met borskanker in 'n vroeë stadium. Die risiko vir terugkeer was bepaal deur die gebruiklike metode in 'n kliniese opset (Adjuvant! Online, wat die kliniese risiko bereken gegrond op die tipe, grootte en ander eienskappe van die gewas), asook deur die MammaPrint-toets (wat die genomiese risiko bepaal deur middel van 'n 70-geen sinjatuur).
In die groep van 6693 vroue, het 1550 (23.2%) 'n hoë kliniese risiko, maar 'n lae genomiese risiko gehad. Die vroue het geen chemoterapie ontvang nie, en na vyf jaar het 94.7% van hulle geen terugkeer van die siekte gehad nie.
"Vir vroue met vroeë-stadium borskanker met 'n hoë kliniese risiko maar 'n lae genomiese risko vir terugkeer, het die ontvangs van geen chemoterapie, gebaseer op die 70-geen sinjatuur, gelei tot 'n 5-jaar oorlewingskoers sonder verwyderde metastase (terugkeer) wat 1.5 persentasiepunte laer was as die koers met chemoterapie. Gegewe hierdie bevindinge, benodig ongeveer 46% van vroue met borskanker met 'n hoë kliniese risiko, nie chemoterapie nie," het die outeurs van die MINDACT-studie gesê.
Slegs pasiënte met vroeë-stadium borskanker (stadium 1 of 2) was vir die studie oorweeg.
Foto: Pixabay