Skip to main content
"Fokus eers op lees met begrip" – verslae

"Fokus eers op lees met begrip" – verslae

Pia Nänny
29 Mei 2016

​Die oorkoepelende doel van die Departement van Basiese Onderwys moet wees dat elke Suid-Afrikaanse kind teen die einde van graad 3 geleer het om met begrip te lees.​​

Dit is die kernboodskap van twee verslae wat Dinsdag (24 Mei) deur ReSEP, die navorsingsgroep oor sosio-ekonomiese beleid wat in die Departement Ekonomie by die Universiteit Stellenbosch (US) gesetel is​​, bekendgestel is.

Hierdie verslae is die kulminasie van twee jaar se navorsing oor die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Die eerste verslag – Laying Firm Foundations: Getting Reading Right, het die oorsake van swak prestasie in geletterdheid en syferkennis ​​in die Grondslagfase (graad 1–3) ondersoek. Hierdie swak fondamente wat in graad 1–3 gelê word, is een van die vernaamste faktore wat tot swak leeruitkomste in latere grade aanleiding gee.

In die tweede verslag – Identifying Binding Constraints in Education – het die navorsingspan daaraan gewerk om die breër bindende beperkings in skoolopleiding in Suid-Afrika te identifiseer. Hierdie werk het op twee maniere 'n wyer fokus behels: om leeruitkomste op alle vlakke van die skoolstelsel te evalueer en 'n breër stel beperkende faktore te identifiseer, wat die administratiewe kern binne die onderwysstelsel ingesluit het.

Alhoewel verskeie bindende beperkings geïdentifiseer is, onder meer swak institusionele funksionaliteit, buitensporige invloed van unies, swak inhoudkennis en pedagogiese vaardighede van onderwysers, en verlore onderrigtyd en onvoldoende leergeleenthede, het albei hierdie verslae uitgelig dat om te verseker dat alle kinders teen die einde van graad 3 geleer het om met begrip te lees, sentraal staan.

"Tans in SA kan omtrent 60% van alle kinders teen die einde van graad 4 nie eers op die basiese vlak lees nie. Hierdie kinders sal nooit die kurrikulum heeltemal kan baasraak nie en sal verder en verder agter raak soos hulle na hoër grade bevorder word," lui die verslag Laying Firm Foundations: Getting Reading Right.

"Tensy leerders 'n voldoende geleentheid gegun is om 'te leer lees', kan hulle nie later 'lees om te leer' nie. Maak nie saak wat die vak is nie, die Suid-Afrikaanse kurrikulum aanvaar dat kinders teen die einde van graad 3 geleer het om te lees, 'n aanname wat nie deur die bewyse gesteun word nie," lui dit verder.

Volgens prof Servaas van der Berg, hoofnavorser by ReSEP, is leerders se leesvaardigheid as die enkele mees invloedryke bindende beperking geïdentifiseer, en dít is waarom hulle aanbeveel het dat onderwysowerhede dit 'n prioriteit moet maak.

"Om te verseker dat elke kind teen die einde van graad 3 met begrip kan lees, is 'n meetbare, verstaanbare en pedagogies betroubare doelwit. Ons moet probleme vroeg aanspreek, en deur dit te doen kan ons sommige van die probleme wat later in die onderwysstelsel na vore kom, die hoof bied.

"Hierdie verslae dui nie daarop dat meer hulpbronne nodig is nie, maar eerder dat hierdie hulpbronne en fondse daarop gerig moet wees om 'n doeltreffende vroeë leesstrategie te formuleer en te implementeer."

Die navorsing het tot onder meer 10 tydskrifartikels, 12 beleidvoorleggings en twee verslae gelei. Die navorsers het ook 'n "Padkaart vir Aksie" met gedetailleerde voorstelle en aanbevelings geskep vir die Departement van Basiese Onderwys om te kan verseker dat alle kinders leer lees. 

Die padkaart sluit die volgende aksiepunte in: die vestiging van 'n Direktoraat van Primêre Geletterdheid; 'n ontleding van lees- en geletterdheid​strategieë in die vroeë grade; 'n kapasiteitoudit van die onderwysstelsel se vermoë om leerders in vroeë grade doeltreffend te leer lees; 'n herformulering van die nasionale vroeëgraad-leesstrategie; en 'n omvattende begrotingontleding van die koste om die nasionale vroeëgraad-leesstrategie te implementeer.

Die navorsers betrokke by die verslae is:

Laying Firm Foundations: Getting Reading Right: Nicholas Spaull, Servaas van der Berg, Gabrielle Wills, ​Martin Gustafsson & Janeli Kotzé​​

Identifying Binding Constraints in Education:​​ Servaas van der Berg, Nicholas Spaull, Gabrielle Wills, ​Martin Gustafsson & Janeli Kotzé​​​​