
FGGW verbind tot die skep van ‘n inklusiewe leeromgewing
As deel van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se voortgesette verbintenis om die kampuskultuur te verander, is dr Maria Christodoulou onlangs as die fakulteit se lewensafrigter vir interpersoonlike verhoudinge aangestel. Haar taak sal wees om ons 'n inklusiewe, transformasiegerigte en kultuurvaardige sosiale leeromgewing te help skep; 'n omgewing wat individuele en gesamentlike mensheid erken en 'n diepe samehorigheid en aanvaarding van almal kweek.
Christodoulou het in 1990 haar MB,ChB-graad aan hierdie fakulteit verwerf en in 2005 ook 'n diplomakursus in afrigtingspraktyk voltooi. Sy het uitgebreide werkservaring in die privaat sowel as die openbare gesondheidsorgsektor opgedoen, aanvanklik as 'n praktisyn in integrerende geneeskunde en daarna as 'n gesondheid-, welwees- en leierskapsafrigter. Sy kombineer haar mediese opleiding en afrigtingsvaardighede met omvattende kennis van verskillende genesingstradisies en die teorieë van verhoudingsielkunde, identiteitskonstruksie en menslike ontwikkeling.
As deel van haar praktykvoering rig sy onder meer individue met kanker en chroniese siektes af, fasiliteer gesondheid- en welweesverwante werksessies en dien as dosent en afrigter in die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, waar sy in 2009 'n nagraadse sertifikaatkursus in Integrerende Geneeskunde ontwikkel en in werking gestel het. Christodoulou dien ook in die personeel en adviesraad van The Coaching Centre en tree op as studieleier en mentor vir kollegas en studente op sowel geneeskundige as afrigtingsgebied.
Sy het haar die afgelope paar jaar hoofsaaklik toegespits op die afrigting van individue sowel as spanne mediese spesialiste in die openbare gesondheidsektor, met die klem op leierskap, veerkragtigheid en die kweek van agente vir verandering. Haar kombinasie van mediese vaardighede en uitgebreide afrigtingservaring bied haar aansienlike insig in die komplekse uitdagings waarmee gesondheidsberoepslui in ons huidige konteks te kampe het. Dít, tesame met haar passie vir maatskaplike kunstenaarskap ("social artistry") – wat nuwe maniere van dink, wees en doen op die maatskaplike uitdagings van die wêreld toepas – maak haar uniek toegerus om die fakulteit by te staan in sy verbintenis om studente en personeellede se persoonlike belewing van ons kampus te verander.
Christodoulou sal oor die volgende paar maande met verskeie belanghebbendes (studente sowel as akademiese en steunpersoneel) ontmoet en afrigtingsgesprekke met individue en groepe op verskillende vlakke van die Fakulteit fasiliteer. Met behulp van afrigtingsmetodes, -instrumente, -vaardighede en -praktyke sal sy die fakulteit ondersteun en lei om nuwe vlakke van sosiale, emosionele en verhoudingsintelligensie te bereik.
"Ek glo dit sal 'n groot bydrae lewer om die talle verdelings tussen ons te oorbrug, en sal ons bowenal nuwe maniere bied om met betrekking tot mekaar te dink, te wees en te handel," sê prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW.
Indien u graag 'n geleentheid wil hê om oor u ervarings met Maria te gesels of om u gedagtes en sienings oor ons kampuskultuur met haar te deel, kontak haar gerus by [email protected] of 083 459 9736.